Authors: Annelie Botes
Die kelnerin sit sy kaaskoek en haar kolwyntjies neer.
“Ek is nie ’n sielkundige nie, Gertruida, maar ek glo die mens hou instinktief vas aan wat mooi is.” Sy
kyk weg toe hy die kaaskoek in sy mond sit. “Ek het nog nooit gehoor van iemand wat terapie kry omdat
hy mooi herinneringe het nie. Hoekom vra jy? Wat wil jy vergeet, of dalk wil jy juis iets onthou?”
Dis háár eiendom. “Niks spesifiek nie, ek vra sommer.” Wag tot sy kaaskoek opgeëet is. “Kan ek jou
’n groot guns vra, Braham?”
“Jy vra so min gunste, Gertruida, dat jy my tien grotes kan vra.”
“Moet asseblief nie kaaskoek bestel as ek by is nie. Net om daarna te kyk, maak my naar.” Sê iets,
voor hy vra hoekom. “Toe ek klein was, het ek my daaraan ooreet.”
“Ooreenkoms. Ek wil ook iets vra … Mag ek my hand vir twintig sekondes op joune neersit sonder dat
jy kriewel?”
Skuif haar plat hand oor die tafel na hom. Op die vyftiende telling sit sy haar ander hand bo-op syne.
Stryk met haar duim oor die donker haartjies op die rug van sy hand. Toe trek sy haar hande weg. En groet
voordat sy begin huil oor alles wat sy nooit sal kan vergeet nie.
Omdat sy op Nuwejaarsdag verjaar, kan sy nie onthou of sy die rooi driewiel met die geel handvatsels
vir Kersfees of vir haar vierde verjaarsdag gekry het nie.
Dit was ’n koue dag.
Sy het vir Mama Thandeka gesê sy wil haar rooi ferweelbroek en geel trui aantrek om te pas by haar
rooi-en-geel driewiel. Toe kook Mama Thandeka vir haar ’n sagte eier en sit dit in ’n rooi eierkelkie.
Kleinbordjie met repies toast om in die eiergeel te doop.
“Isinye, isibini, isithathu, isine, isihlanu, isithandathu,” het Mama Thandeka haar leer tel terwyl sy die
ses repies sny. “Nog net drie maande, dan’s jy vyf jare oud. Kyk,” en Mama Thandeka het haar vingers
een vir een opgesteek. “Isinye, isibini, isithathu, isine, isihlanu …”
“Hoe lank is drie maande?”
“Daar moet nog drie volmane kom, dan is drie maande verby.”
“Gaan dit môre weer bloumaan wees, Mama Thandeka?”
“Nee, bloumaan was in Juliemaand gewees. Is lank voor daar weer …”
“Ek het self gesien hy was nie blou nie. Kry mens rooimaan en persmaan ook?”
“Nee, net donkermaan en kwartmaan en halfmaan.”
Mama Thandeka het haar handjies met die natlap afgevee en gesê sy is ’n soete kind wat haar hele eier
en al ses stukkies toast opgeëet het.
“Hoe sê mens ‘eier’ in jou taal, Mama Thandeka?”
“Iqanda.”
“Wys my hoe kry jy jou tong om so te klap, toe?”
Mama Thandeka het gebuk. “Kyk bietjie, Gertruida, sit die punt van jou tong teen jou voorverhemelte,
agter jou tande, so …”
Sy het in Mama Thandeka se mond ingekyk en vir die eerste keer gesien swart mense se monde is
pienk aan die binnekant.
“Trek jy jou tong vinnig agtertoe, soos of jy jou tong terugsuig. Probeer …”
Hulle het gelag en “iqanda” oor en oor gesê.
Al was dit koud en nat, was dit ’n rooi-en-geel dag.
“Loop speel met jou poppe in jou kamer. Ek moet uie skil vir dinnertyd, jou oë gaan brand.
Netnoumaar sal ek vir jou koffie bring in jou rooi beker.” Mama Thandeka het die uie op die wasbak
neergesit. “Jy moet jou poppe was en hulle klere regpak, want is net isine slapies,” sy het vier vingers
gewys, “dan kom jou mama huis toe.”
Sy wou in die kombuis bly. Die stoof was warm en dis mooi as Mama Thandeka sing terwyl sy kook.
Dis lekker as sy praat van maande en halfmaan en Juliemaand. En die verhemelte-woorde was soos
Krimisklappers, só mooi. Sy was nie lus vir popspeel nie; wou eerder speel in haar boomhuis met die
touleer wat haar pa in die sederboom gebou het. Daar is koppies en ’n teepot; gordyne wat haar ma
gemaak het. Vatlappies, potte, panne. Dan is sy ’n VLV-mevrou. Party dae speel sy die tuin is haar
winkel, dan pluk sy blare en blomme om speel-speel aspersietert en roomhorinkies te maak vir die tennis.
Of sy speel kerk-kerk met die blou klokkieblomme. Mabel sê dis die kerkklokke van die feetjies en
elfies; mens noem dit koppie-en-piering-klokkies. Dan speel sy dis regte koppies en pierings, en skink vir
die elfies en feetjies Nagmaaltee.
Maar sy kon nie buite speel nie, want dit het gereën.
Toe wens sy Anthonie was nie dood nie, dan kon sy deur sy skoolboeke blaai. Of lang woorde uitdink
wat hy in sy woordeboek moet opsoek. Piesangbrood. Stokkielekker. Tennisbal. Hoenderhok.
Vuurvliegie. Sy hou van lang woorde. Wanneer hy die woord kry, moes hy w ýs hoe lyk die lettertjies.
“Anthonie, hoe weet jy daar staan ‘pampoenkoekies’?” “Ek kan mos lees.” Dan druk hy sy potlood
onder die lettertjies en sê: “Pam-poen-koe-kies. As jy oor twee of drie
jaar grootskool toe gaan …”
“Ek wil sommer môre grootskool toe gaan.”
“Jy mag eers as jy ses is.”
Hy het steeds sy vinger onder “pampoenkoekies” gehou. “Leer my nóú, toe, Anthonie?”
“Nee, dit vat lank. Kom ek wys jou eerder hoe skryf mens jou naam.”
Behalwe die kolgansies wat agter die ma-gans aanswem, was dit die mooiste iets wat sy nog gesien
het. Háár naam. ’n Toor-iets.
G E R T R U I D A.
“Wys elke liewe lettertjie met jou potlood, Anthonie, toe?”
Sy het met die papier onder haar kussing geslaap. Boomhuis toe gevat. Die letters vir Bamba gelees;
vir die duifie wat in die suurlemoenboom broei. Mama Thandeka het haar hande oor haar mond geslaan.
“Jitte, Gertruida, jy’s ’n slimme tjint.” Mama Thandeka het ’n bossie groenbone bymekaargevat. “Lyk
my jy trek op jou mama wat so lief is vir blokkiesraaisels.”
Eendag sit sy onder die tafel in die ontbythoekie met die naampapier. ’n Mens se oë raak gou gewoond
aan die skemer. Sy oefen haar naamletters met haar potloodkryte op die tikpapiere wat sy by haar pa in sy
kantoor gekry het. Toe hoor sy haar ma sê vir Mama Thandeka: “Gertruida praat my mal. Partykeer is ek
lus en plak haar mond toe met pleister. Maar sy’s so liefdevol, so sonder nukke en fieterjasies …”
Saans as storieleestyd verby is, vra sy vir haar ma wat beteken grootmenswoorde soos “fieterjasies”
en “hartstogtelik” en “nukke” en “slenterslae” en “histerektomie” en “uterus”. Dan druk haar ma haar vas
en sê sy is te skatlik vir woorde. Dan vra sy wat beteken “skatlik”.
Anthonie móét dood wees, vir altyd, want hy kom nie naweke van die koshuis af nie. Sy skooltas en
woordeboek is weg uit sy kamer. En haar ma huil elke dag. Sy sit nooit meer by die eetkamertafel met
haar blokkiesraaisels nie. As sy oor vier slapies huis toe kom van die VLV-kongres in Kaapstad, gaan sy
wéér op die bed lê en huil. Maak nie saak hoe lank haar pa by haar op die bed sit en haar rug vryf nie, sy
huil net aan en aan. Al gee hy vir haar tee of malvalekkers, sy hou nie op nie.
Sy onthou sy kon die reën op die dak hoor terwyl sy die poppe op die mat neerlê. Mama Thandeka het
haar rooi koffiebekertjie op die mat neergesit.
Volgende wat sy onthou, is dat sy tussen haar pa en Mama Thandeka in die bakkie sit. Sy kyk hoe die
ruitveërs die druppels wegvee. Hulle laai Mama Thandeka af en sy hardloop in die reën by haar huis in.
Volgende sien sy haar pa loop in die reën met sy waterstewels aan kraal toe. Solank hy melk, ry sy met
haar driewiel op die stoep.
Kaapstad is om die draai aan die verste punt van die stoep, waar die houtvaatjie vol geel en oranje
kappertjies voor haar kamervenster staan. Haar ma sê kappertjies is ’n tuin se soldaatjies. “Die ronde
blaartjie is die soldaat se skild, en die blommetjie is sy helmet, nes die soldate in die Kinderbybel.
Mamma plant dit in die vaatjie voor jou venster, dan is dit jóú soldaatjies.”
Die VLV-kongres is in Kaapstad. Sy ry ver Kaapstad toe om vir haar ma te sê Anthonie lewe weer en
hy sê hy is honger. Haar ma sê sy moet vir Anthonie van die appelliefietert in die yskas sny.
In die middel, reg by die trap, is Hermanus waar Oupa Strydom in die ouetehuis by die see gebly het.
Oupa Strydom is ook dood. Sy weet nie wanneer nie, en sy kan nie onthou hoe hy gelyk het nie. Lank terug
het hy hier op Kiepersolkloof in die kamer gebly waar die muskeljaatkatvelletjie lê. Sy twaksak en pyp en
jig-armband en valstande is nog by die ouetehuis op Hermanus. Sy wil dit gaan haal en sommer vir die
oupas en oumas ’n klomp sakkies aartappels saamneem. Want omdat hulle valstande het, eet hulle baie
mash potatoes.
Die hemel is by die ander punt van die stoep, waar die tuintafel staan wat haar ma met ’n
blokkiesraaisel gewen het. Anthonie is ’n seuntjie-engel en sy neem sy emmertjie en grafie vir hom waar
hy by ’n silwer rivier op die silwer sand speel. Toe gryp Jesus sy staf en spring van sy troon af en raas
met haar omdat sy by die hemel se hek ingekom het voordat sy doodgegaan het. Die doringkroon om sy
kop maak haar bang.
Sy jaag báie vinnig Kaapstad toe om by haar ma weg te kruip. Toe sy op haar vinnigste by Hermanus
verbyry, kyk sy om of Jesus haar jaag. Toe maak sy ’n ongeluk en ry met haar driewiel by die trap af.
Haar lip bloei en haar handpalms en knieë is stukkend. Seerste van alles is haar pietermuis wat by elke
trap teen die rooi pyp van die driewiel stamp. Só seer, sy dink dis gebreek of gebars. Haar asem is weg.
Toe kom haar asem weer terug. Die bloed aan haar vingers moet by haar pietermuis uitkom, want haar
pietermuis is seerder as haar lip.
Deur die trane sien sy haar pa aangehardloop kom. Hy roep: “Pappa kom, Truia!” Die water spat
onder sy stewels. Hy tel haar op, druk haar kop teen sy skouer. “Toemaar, Pappa gaan salf smeer. Sjuut
…”
In die somer aan die einde van die jaar ná haar matriekjaar, sit sy en Braham in Die Koffiekan. Die
Kersversierings irriteer haar. Kwakers vier nie Kersfees nie. Die eintlike waarheid is dat sy begeer om
Kersfees te vier. ’n Boom, presente, die reuk van rose in die kerk, om saam met die gemeente “Die
Heiland is gebore” te sing. Om te hoor hoe iemand vir haar sê: geseënde Kersfees, Gertruida, en ’n
voorspoedige nuwe jaar.
Solank niemand weet sy begeer dit nie.
“Gaan Sondagaand saam met my Kerssangdiens toe, Gertruida?”
“Nie al sleep jy my nie. Ek wou nie eens op skool CSV toe gaan nie, jy onthou mos.”
Hy lag. “Ag, toe, al is dit net vir die betowering. Een van die matrieks gaan ‘’n Kersnaglegende’ van
Leipoldt voordra.”
Op die ou end is sy saam. As sy geweet het haar pa is Josef van Nasaret in die Kersspel, en hoe die
poësievoordrag haar sou ontstel, sou sy nie gegaan het nie.
Op Kersnag, as die noorderligte
Die Noordpoolys met silwer spoel,
Klim Judas uit die hel se hitte
Om op die ysveld af te koel.
Haar pa het op die badrand gesit met haar op sy been. Sy
het ’n groot pie gekry toe hy die kraan oopdraai.
“Kom, Truia, Pappa spoel die bloed van jou handjies af.”
“Ek wil pie, maar my pietermuis het gebreek …”
Die water was soos ’n rooibytjie wat haar palm steek. “Help my met …”
“Toemaar, Pappa gaan jou lip skoonmaak met ’n wattetjie. Sjuut …”
Dit was haar pa. Haar groot, sterk pa.
Hy kon ’n koedoe met die .303 in die kop skiet. ’n Ram aan sy horings sleep tot by die slagplek. Met
een tree oor ’n miershoop spring. Haar hoog in die lug gooi en weer vang sonder dat sy bang is vir val.
Hy kan ’n boomhuis bou, en deur ’n vol rivier swem.
Hy sal weet watter salf sal help vir die pyn.
Hy het haar badwater ingetap en gesê sy moet hom roep as sy afgedroog is en haar pajamas aanhet.
Dan sal hy ’n storie kom lees. Sy het haar nie gewas nie; net in die bad gesit, want sy was bang die seep
brand haar stukkende knieë. Uitgeklim en die handdoek om haar gedraai, want sy het koud gekry. Toe sit
sy op die bed en wag tot sy dink sy is droog, en roep haar pa.
Sy was nie skaam toe hy haar pajamas aantrek nie. Nou nog sien sy die persblou ink van die wolbaal-
stensil aan sy duim terwyl hy haar pajamahemp toeknoop.
“Huis, paleis, pondok, varkhok,” sê hy die knopies se name. “Sê saam met Pappa vir die laaste twee
knope. Huis, paleis … Sien, jy gaan eendag in ’n paleis bly, só sê die knope!”
Hy sê sy moet op die bed se rand sit en haar voet deur die broekspyp steek.
“Ek kan nie, dis te seer.” Haar huil het weer begin. Haar stukkende lip het snaaks gepraat. “Dis Jesus
se skuld dat my pietermuis …”
“Toemaar, oor vier slapies kom Mamma. Jy en sy en Mabel gaan sneeuklokkies pluk en
jakobregoppies saai vir …”
Haar huil het groter en groter geword, tot haar bors gehyg het.
“Lê agteroor op die bed, Truia, dat Pappa kyk …”
Sou dit anders uitgewerk het as haar ma nie by die VLV-kongres was nie? Of as sy nie in ’n
verbeeldingsvlug geglo het Jesus jaag haar nie? Of as sy nooit die driewiel gekry het nie? Of as dit nie
gereën het nie, en sy kon in die boomhuis speel?
Kan ’n mens se lewe in een sekonde, toe jy omkyk by Hermanus, op ’n mespunt draai en stadigaan
vergaan? Kan een sekonde vir twee-en-twintig jaar aanhou? Kan ’n mens so afgetakel raak dat jy
harteloos op ’n wildekastaiingblom trap?
Ja. Sy kan daarvan getuig.
Haar pa het die Vaseline in die medisynelaai gaan haal. “Lê stil, dan vertel Pappa vir jou die Drie
Beertjies terwyl ek die Vaseline aansmeer.”
Toe kom lê hy langs haar waar sy dwars op die bed lê.
“Eendag was daar ’n dogtertjie met goue krulhare. Haar naam was Gouelokkies. Sy het in die bos
verdwaal en kon nie haar huis kry nie …” Met sy regterhand het hy die Vaseline aangesmeer. Dit het
gehelp. “ … geklop en geklop, maar daar was niemand tuis nie …” Hy het gesmeer tot haar snikke
weggaan. “ … Die pap was te sout …”
Toe hy van die bababeertjie se papbord vertel, het dit gevoel of daar miere oor haar blaas en liesies