Authors: Annelie Botes
“Jou kamer stink na hondekak!” Abel is verskriklik dronk. “Jy moet die verdomde ding laat uitsit, of ék
skiet hom vrek!”
Dit ontstel haar as Bamba vir sy eie skaduwee blaf. In sy seniliteit aan die yskasdeur krap wanneer hy
wil uitgaan. “Asseblief, Pa, ek het nie die hart om …”
“Die ding kak en pis gedurig in die huis! Ek is gatvol gesukkel met die hond!”
Bamba is ál wat sy het. Blinde Bamba.
Toe Abel en Susarah die volgende dag wegry kerk toe, tel sy Bamba op en loop berg toe met die .22.
Al is hy blind, wys sy vir hom die plekke waar hulle twee so baie geloop het. Veldpaadjies. Bergpoel.
Kliphuis. Maak vir hom boeliebief oop. Hy wil nie eet nie. Toe die skemerheimwee haar oorval, vat sy
die .22 en lê Bamba weskant van die kliphuis neer.
Dit voel of sy in haar eie kop vasskiet.
Sy is eers die volgende Sondag huis toe. ’n Week uit die skool om alleen in die kliphuis te rou. Die
Maandag vat sy die gesteelde graaf; rol die koue lyfie toe in ’n trui, en dra hom tot waar die
karmosynpienk septemberbossie blom.
En sy bêre hom.
Elke keer daarna as sy kliphuis toe is, het sy ’n paar rivierklippe saamgedra om ’n grens rondom die
grondhopie te pak.
Toe sy haar kom kry, sit sy in die kliphuis se deur. Die vuurrook het ’n dynserigheid oor Kiepersolkloof
agtergelaat. Die wit nagrok is vuil en geskeur. Die reis hierheen is vaag. Sy kan nie onthou waar sy die
.22 en waterbottel neergesit het nie. Het sy tóg kranksinnig geraak?
Sy kruip binnetoe en lê in die warm holte. Nêrens roep ’n voël nie. Dis asof die berg saam met haar
aan die slaap raak.
Haar mond is droog en taai toe sy wakker word. Buite is dit donker, want dis feetjiemaan. Sy soek die
waterbottel met haar Victorinox se flitsie. Die rookreuk is weg. Sy is nie honger nie. Sy draai die
kombers om haar en slaap verder saam met die donker berg.
Sonop gaan was sy haar in die ysige bergpoel. Slof terug kliphuis toe en trek skoon klere en ’n
langmou-T-hemp aan, want sy kry koud. Borsel haar tande met water uit die groen waterkan. Terwyl sy
sukkel om die koeke uit haar hare gekam te kry, val die blik met klippers aan die onderpunt van die
voetpaadjie. Sy spring op die naaste hoë klip en sien Mabel se rooi trui agter ’n karsiebos verdwyn, wég
van die voetpaadjie af.
Was dit regtig Mabel wat sy gesien het? Mabel sal nie in die vislyn vasloop nie.
Vat die .22 en gaan staan voor die kliphuis.
Braham Fourie kom in die voetpaadjie aangestap.
Sy weet hy sou nooit die kliphuis kon kry nie. Mabel het hom gebring en die blik laat val om haar te
waarsku.
Sy sit die .22 teen die klipmuur neer. En sy wag.
*
Is halfpad dinnertyd toe. Ek sit met die broodsnymes by die kombuistafel. Ek sê: Gqithisa isonka. Gee die
brood aan. Galela iwayini. Skink die wyn.
Die witbrood in die platbord is gister s’n wat ek in blokkietjies gesny het. Is Mabel se soetwyn vir
koekies bak wat op die tafel staan. Vandag hou ek Nagmaal. Want die man het vanselwers gekom. En die
huis en tuin is uitgespaar van afbrand. Die trane loop in my oumensplooie af. Bly-weestrane. Nagmaal-
trane.
Skaars was die son uit agter die bergrant, toe kom die man hier aan. Kompleets of hy geweet het ek
roep in my stilligheid na hom. Hy soek vir Gertruida, sê hy, en hy bel al van waffer tyd af, maar niemand
antwoord nie.
“Sy’s by die kliphuis. Sy wil alleen wees,” sê Mabel.
“Sal jy my asseblief na haar toe neem?”
“Sy’t die geweer by haar. Sy gaan op jou skiet.”
“Sy sal nie.”
“Vat hom soontoe, Mabel,” sê ek. Ek draai my oë na hom toe. “As jy Gertruida se hart breek, sal
iNkosi jóú bene een vir een breek. Verstaan dit bietjie mooi …”
Toe is Mabel hier weg met hom.
Nou sit ek hier met my Nagmaalgoed en bid dat iNkosi vir Gertruida ’n goeie lewe op die pad
vorentoe opgeskryf het. En dat Hy haar sal help om die pad agtertoe bietjie skoner te vee.
Gqithisa isonka. Gee die brood aan. Galela iwayini. Skink die wyn.
Ek sit ’n broodblokkietjie op my tong. Bring die koekiewyn na my lippe toe. En ek weet iNkosi sien
ons almal raak.
Toe ek klaar gesluk is, sing ek die lied wat ek al baie kere gesing het as ek nie weet waffer kant toe
nie.
Seng’ya vuma, Seng’ya vuma, Somandla … Stuur ons Here, Stuur ons Here, in u Naam …
*
Nog dertig treë. Hy kyk op na haar en waai.
Twintig treë. Tien. Vyf.
Toe is hy binne vatafstand van haar.
Sit haar plat hande teen sy bors. Om hom bergaf te stamp. Maar sy stamp nie.
“Ek kom hoor of jy nog die plaasskooltjie wil oopmaak. En of daar ’n vakante pos sal wees van
Januarie af.”
Dis nie ’n droom nie.
“Januariemaand is turksvytyd. Dit sal die fabriek se eerste seisoen wees. Eintlik soek ek ’n voltydse
fabrieksbestuurder.”
“Mag ek aansoek doen, al weet ek niks van turksvye nie?”
“Jy is so pas aangestel, Braham. Jy moet net kies watter werkershuis ek vir jou moet laat opknap.”
Hulle sit met hulle voete in die koue bergpoel en eet geblikte koejawels. Die lenteson skyn op hulle
skouerblaaie.
“As die skool in Desember sluit, gaan ek Frankryk toe, Gertruida, Avignon toe, om na die ruïnes van
die Saint Claire-kerk te gaan kyk.” Hy hou sy hand na haar uit. “Gaan jy saam?”
Sy ryg haar vingers deur syne.
Eendag sál Abel se beeld vervaag. Eendag sál die horlosietikke in haar kop stiller raak. Eendag sál sy
’n mooi memorieboek kan maak wat sy nooit sal wil begrawe nie.
“Ja, Braham, ek gaan saam.”
Die einde
Tafelberg,
’n druknaam van NB-Uitgewers,
Heerengracht 40, Kaapstad 8001
Eerste uitgawe 2009
© 2009 Annelie Botes
Alle regte voorbehou
Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike verlof
van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of
deur enige elektroniese of meganiese middel weergegee word nie,
hetsy deur fotokopiëring, skyf- of bandopname, of deur enige
ander stelsel vir inligtingsbewaring of -ontsluiting
ISBN: 978-0-624-04685-1
ISBN: 978-0-6240-5239-5
Document Outline
Table of Contents