Authors: Annelie Botes
Ek sê vir Miss Lyla sy moet sterk tee maak, ek sal ingaan. Ek haal die tjint uit die bruin koffertjie
waarin Miss Lyla hom toegemaak het. Vou die handdoek los. Potbloue seuntjie. Enigste gebrek wat ek kan
sien, is sy haaslippie.
Ek hoor ’n geluid agter my. Is Abel. Hy beginte huil soos ’n hond wat maan toe kyk. My kwaad vir hom
is groot. My pyn om sy onthalwe is groot. “Vat die tjint, Abel, en gaan begrawe hom op Kiepersolkloof.
Wat help dit jy loop gee sy geboorte op by die magistraat? Is troebele waters wat weggeloop is.” Ek
draai die tjint toe en sit hom in die koffertjie; druk die knippe toe. “Vat hom, Abel, en ry nóú terug
Kiepersolkloof toe.”
“Thandeka,” fluister Missus Susarah toe ek by Gertruida se kamer ingaan. Daar’s prentjies wat nooit
dof raak in mens se kop nie. Soos daardie vroegdag toe ek staan en kyk hoe Missus Susarah Gertruida se
hand tussen haar twee hande vasvat. Hoedat haar trane op Gertruida se hand drup.
Toe sê ek sy moet gaan tee drink by Miss Lyla in die kombuis, ek sal by Gertruida sit.
Twee dae verderaan het Abel ons almal gekom haal. Terug Kiepersolkloof toe.
OuPieta sê latertyd vir my hy moes ’n diep gat gespit het by die voet van die Virginia Creeper, en daar
het Abel ’n koffertjie gebegrawe, saam met ’n bossietjie sneeuklokkies.
’n Maand later moes ek Gertruida van die windpomp af sing.
Mabel sê daar groei ’n kring bloedrooi roosbome rondom die voet van die Virginia Creeper. Sy sê
rooi rose staan vir skaamte en skande. Tot vandag kry ek nie in my dowwe oumenskop uitgewerk wie se
skaamte en wie se skande nie.
Maandag móét my bene dit maak tot op die werf. Daar’s hartseertes wat ek vir Gertruida moet vertel
voor ek ’n sterremens word. Gertruida, sal ek sê voor ek met my notsungkierie terugsukkel huis toe: Susa
ukhula egadini. Haal die onkruid uit. Maak skoon die tuin in jou kop. Moenie dat dit nog langerder
saadskiet en vervuil nie. Susa amagqabi. Hark die blare op. Voor die wind hulle oraloor wegwaai. Ndiza
kukha iintyatyambo. Pluk die blomme. Sodat die huis soet kan ruik wyl jy slaap.
*
Dis nege-uur.
OuPieta staan gebukkend met die sekel en sny lusern. Sy voel jammer vir hom. Dis tyd dat hy ophou
werk. Volgende week wil sy begin soek vir betroubare werksmense. Gesinne, met kinders wat skoolgaan.
Tannie Magriet kan haar help met die skool. En Andrea se ma is ook ’n onderwyseres. Dalk kan sy hulle
help om weg te kom uit die bokshuisie. Andrea was altyd goed met wiskunde, miskien kan sy die fabriek
se boekhouding …
Jy droom, Gertruida, sê sy hardop.
Hoekom mag sy nie drome hê nie? Die hokdeur is oop; storm uit.
Drink koue koffie. Was hande. Badkamer toe.
Tel Abel se bos sleutels op waar dit geval het toe sy die muurstaander uitgesmyt het. Sluit sy kantoor
oop. Pynlik ordelik. Niemand behalwe hyself het hier skoongemaak en reggepak nie. Begin uitdra aan
alles wat nie vasgeboud, ingebou of vasgebou is nie. Stoel, leeslamp, snippermandjie, skryfbehoeftes.
Beweeg heel regs op die stoep en gooi dit by die voet van die Virginia Creeper. So hard as wat sy kan.
Daar is ’n gejaagdheid in haar om klaar te kry in die onheilsnes.
Boonste lessenaarlaai vol penne, skuifspelde, duimdrukkers, ponsmasjientjie. Skiet die laai se inhoud
oor die roosbome by die Virginia Creeper.
Middelste laai. Honderde stiffies, CD’s. Boks manstissues. Sies. In die agterste hoekie kry sy ’n
patroondoppie en die plastieksak met terroriste-ore. Gemaskerde lafaard.
In die onderste laai kry sy die fotoalbum met affodille op die voorblad. Die eerste volbladfoto is ’n
laggende dogtertjie op ’n rooi driewiel. Boaan in sy sterk lopende handskrif: Gertruida se derde
verjaarsdag.
Omblaai, omblaai. Die rooiwang-dogtertjie lag uit elke foto.
Gertruida en Anthonie en Susarah bou ’n sandkasteel by Hermanus. Gertruida lek die
sjokoladekoek se bak uit. Gertruida kry badskuim-hare. Gertruida en Bamba vang ’n veldkonyn.
Gertruida en Anthonie speel winkel-winkel in die boomhuis. Fraaie confetti-meisie. Ons bou ’n
sneeuman.
Hoe verder sy blaai, hoe droewiger word die gesiggie.
Eerste dag in sub A. Gertruida en haar nuwe Jack Russell. Kyk hoe korrel sy met haar nuwe .22!
Gertruida ploeg die aartappelland met die John Deere. Prysuitdeling 2001, erekleure vir tennis.
Hoekom het hy haar lewe vasgeplak en gebêre? Het hy ook opgelet die laggende kind verander in ’n
stroewe oumensie? Is dít die klein dogtertjie met die yslike behoefte aan koestering en gerusstelling
waarvan die sielkundige gepraat het?
Bêre die fotoalbum op die potystertafel.
Binnetoe. Werk gedrewe; gooi oor die muur. Tydskrifte, koerante, aardbol, maanbol. Plaasinligting en
die boekhouding is op haar rekenaar gekopieer. Gooi weg. Toetsbord, muis en drukker. Sy wil nie onthou
hoe hy haar saamsleep kantoor toe en sy kredietkaartnommer intik om op afstootlike webwerwe in te gaan
nie. Sit jy ook soos hierdie een, Truitjie. Dis mooi as sy so kaalgeskeer is, nè? Jy moet vir jou rooi
spykerhakskoene kry, en ’n rooi kantbra en pantie …
Sy is dáár, maar sy loop in die garingblaaikamp met Braham. Sy wil vir hom die witkruisarend se nes
gaan wys; die oerwoud van kiepersolle teen die suidhang van die kloof. Miskien is daar eetbare
sampioene en ryp brame. Die krammetjiemasjien knyp haar en ruk haar weg uit die garingblaaikamp. Abel
trek ’n manstissue uit die boks.
Liasseerkabinet. Blits deur die hofies. Telkom. ABSA. Subskripsies. Kerkraad. ATKV. Skou-
skedules. Dit fladder oor die muur. Enkele lêers rakende plaassake móét sy uithaal. Kry bokse in die
waskamer; pak die res daarin vir die boedelberedderaars. Sleep dit waskamer toe.
Bonsmaras. Sy moet kennis hê van elke bees, om teen die beste pryse te verkoop as kapitaal vir haar
turksvyboerdery.
Medies. Bewyse van ’n vasektomie, gedateer 25 Julie 2000. Sy seën hom. Dan het hy tog ’n flentertjie
gewete gehad.
Kaart en transport. Want Kiepersolkloof is nou háár eiendom.
Abel Strydom: persoonlik. Ondertekende beloftes. Su
sarah, ek belowe skriftelik om Gertruida uit te
los as jy my
tweehonderdduisend rand voorskiet om die koöperasie te betaal. Nog en nog skriftelike beloftes.
Alles in ruil vir geld. Elkeen met die belofte dat hy haar sal uitlos.
Het haar ma dan tóg omgegee en gehoop dit sou einde kry? Of het sy vuil gespeel en verneder?
Ineens is daar ’n kolletjie in haar brein wat selekteer om te glo Susarah het by wyse van erfgeld al die
jare haar hakskeen op Abel se nek gehad. Recce, wie se naam vir ewig in sy eie hart gepryk het op die
Wall of Shame.
Pak die lêers wat sy mag nodig kry in die hoek op die stoep. Sit ’n swaar potskerf van Susarah se
gebreekte kleipot bo-op, sodat die wind dit nie oopwaai nie.
Lêer met
GERTRUIDA
op die plakker getik. Skoolrapporte. Geboortesertifikaat. Naamstrokie toe sy
gedoop is. Tennistoekennings. Wragtig, die brief wat sy aan die predikant geskryf het. ’n Brief op die
skool se briefhoof. Gedateer Junie 2001, die jaar toe sy graad elf oorgedoen het nadat sy met ’n
sogenaamde gesonde skouer van Oos-Londen af teruggekom het. Dis onderteken deur Braham, en dit skok
haar.
In die wintervakansie van haar tweede graadelfjaar daag Braham haar uit vir ’n wedstryd op die
skoolbaan. Sy kry hom in die koöperasie toe sy hoenderkos koop.
“Middag, Meneer. Ek dog Meneer is weg vir die vakansie?”
“Nee, ek gaan eers in die laaste week. Die werkswinkels vir die matrieks kom tot my spyt bó vakansie
hou. Ek kom soek net gou miergif …”
“Dis dáárdie kant,” en sy beduie na die spuitstofrak. Begin aanloop, want sy hou nie daarvan dat hy
haar in ’n plaas-oorpak sien nie.
“Wag, sê eers vir my hoe gaan dit met jou en die tennismasjien?”
Halfhartig. “Redelik.”
“Hoe lyk dit met ’n wedstryd op die skoolbaan? Net vir die oefening.”
“Meneer wil seker nie verneder wees nie.” Sy kry dit reg om te lag.
“Nè? Kom ons maak ’n dag en tyd …”
Vrydag. Tienuur. Beste uit vyf stelle, soos Wimbledonmanstennis.
Sy was en politoer die Corsa. Smeer haar bene room. Trek die swart rekbroek aan. Daar is die blyste
bly in haar toe sy by die dorp inry.
Opwarm. Gooi ’n muntstuk op. Sy dien eerste. Hy kies tot haar verbasing om téén die son te speel. Sy
speel met presisie, konsentrasie, beplanning. Die wêreld bestaan nie. Dis net sy, die raket, die bal, die
baan.
En Braham.
Twee stelle elk. Dit voel of sy vlerke aan haar voete het.
Toe hulle water drink en kante ruil vir die vyfde en finale stel, loop hulle rakelings verby mekaar by
die netpaal.
“Gertruida?”
Hy moenie genade verwag nie. Of dink sy verwag genade nie. “Menéér?”
“Ek vra jou nou reeds: Die dag as jy jou pen neersit ná jou laaste graadtwaalfvraestel, wil ek by jou
kom kuier. Kan ons vandag die afspraak maak?”
Warmgloed wat haar oorval. “Nee. Bel my op daardie dag vir ’n afspraak.”
Dit het haar totaal ontsenu, en haar die wedstryd gekos.
Sy staan met die brief in die chaotiese kantoor, en weier om te glo wat sy lees.
24 Augustus 2001
Beste Oom Abel
Die skool het my afgevaardig om ’n week lange tennisafrigtingskursus in Kaapstad by te woon tydens
die Septembervakansie. Nadat ek met die hoof gepraat het oor bykomende hulp met die tennisafrigting,
wil ek hoor of Oom kans sien dat Gertruida dit saam met my bywoon. Sy kan van groot hulp wees met
die afrigting van laerskoolspelers. Die skool sal haar kostes betaal en sy kan saam met my ry. Ek besef
sy help Oom tydens vakansies, maar ek hoop Oom sal hierdie geleentheid vir haar moontlik maak.
Laat my asseblief weet sodra Oom en die tannie besluit het, sodat ek haar inskrywing en
hotelbespreking kan doen. Voorlopig meld ek niks aan haar nie, totdat ek van Oom hoor.
Groete. Braham Fourie
Tot op hierdie minuut het sy niks hiervan geweet nie. Grote bliksem! Sy kon saam met Braham Kaap toe
gegaan het, maar Abel het haar geïsoleer, soos altyd. Dít sal sy Abel nóóit vergewe nie!
Om te dink Braham het geweet sy het ’n buite-egtelike kind gehad, ’n skandekind. Nogtans het hy haar
waardig genoeg geag om nie ’n skinderstorie daarvan te maak nie. Hy was nie skaam om saam met haar
gesien te word nie; hy wou met haar gaan dans en haar saamneem na personeelfunksies. Hy het haar vir sy
ma-hulle gaan wys. Haar gevra om te trou. Belowe om haar eendag Avignon toe te neem.
Sy kon niks daarvan gryp en by die hokdeur uitstorm nie, want haar lewe lank is dit by haar ingeprent
dat sy ’n hoer en ’n verloorder is.
Dônnerse-dônnerse Abel Strydom!
Sy hoor haarself gil. Die ruit breek toe sy die papiergewig daarteen vasgooi. Slaan die waaier af van
die liasseerkabinet met die winkelhaak. Ruk die kerkalmanak van die muur af en skeur dit in stukke.
Dis ’n groot wal wat breek in haar gemoed. Soos kranksinnigheid wat oor twee-en-twintig jaar
opgebou het, en in een sekonde in die middeloggend oopbars.
Met brute krag dop sy die lessenaar om. Trap tussen die goed op die vloer deur en hardloop buitetoe.
Die slaapkamer kan wag. Alles kan wag.
Kry die petrol in die waenhuis. Die swaar petrolkan voel soos ’n veertjie. Strooi, strooi. Oraloor, tot
die kan leeg is. Sleep die tuinslang nader. Draai die kraan oop. Hardloop in die wapperende nagrok na
waar OuPieta in die groentuin skoffel, en vra hy moet hand bysit as die wind opkom en die vuur wil
weghol.
“Jirretjie, Nooitjie, is goeters hierdie wat jou pa en ma met baie sweet …”
“Ja, OuPieta. Maar niemand het omgegee oor wat ék bymekaarmaak nie!”
“Nooitjie …?”
Luister nie. Hardloop terug. Trek die nagrok op tot by haar knieë om vinniger te beweeg.
Vuurhoutjie trek.
Swaelreuk.
Gooi die vuurhoutjie in die berg gemors in en staan tru. Binne sekondes brand die vlamme oor ’n
memorieboek vol swart vingerafdrukke.
Sy staan in die voordeur; die hitte walm teen haar aan. Rookbolle. Plofklanke. Knettergeluide.
Iewers in haar kern verdeel sy in twee mense.
Sy huil uit die een mens.
En juig uit die ander.
Sak kruisbeen neer op die voordeurdrumpel. Sit en kyk na die vlamtonge. Dis asof sy ná jare van
pynskokke uiteindelik by die oop hokdeur uitstorm.
Gertruida draai dit terug. Die aarde giet dit uit. Gertruida geregtig te treur.
Toe die son op twaalfuur sit, is die vuur uitgebrand. Die rook trek nog stadig uit Ouma Strydom se
spieëlkas en uit die smeulende matras.
Snuit haar neus aan die nagrok. Hang die .22 oor haar skouer. Vat die waterbottel. Loop na OuPieta toe
en vra hy moet dophou en natspuit as die laaste rook gaan lê het.
Begin kliphuis toe stap.
Haar voete hóéf nie op die klippe en harde grond langs te hou nie. Sy mág spore agterlaat. Dis asof sy
stadig bokant die bosse kliphuis toe vlieg. Sy verlang pynlik na Braham. En na Bamba. Nooit sal sy die
glansloosheid in Bamba se oë vergeet nie. Vir die res van haar lewe sal sy soms in haar nagmerries
daardie laaste geweerskoot hoor eggo.
Op ’n lentedag van haar tweede graadelfjaar, ’n Saterdagaand, is dit matriekafskeid. Sy wil nie gaan nie,
want sy is bang Bamba gaan alleen dood. Toe die deurknop laatnag draai, lê sy hom op die
bokhaarvelletjie neer; skuif hom onder die bed in.