Authors: Annelie Botes
Mama alleen los en berg-uit hol met dié brief voordat jy hier kom. Sodat jy nie moet dink ek het
gesteel nie. Ek sê net ek het die mansjetknope en pêrels en jou ouma se ring kom haal vóór die
begrafnis. Toe draai ek dit toe met koerantpapier en bind dit toe in ’n swart kopdoek van Mama. Ek
het vir OuPieta gesê dis my doodspresent, hy moet dit in die graf gooi voor hulle agterna toemaak.
Jy’t die goed gesteel, Gertruida, dit moet terug na waar dit hoort. Anders kom spook dit by jou
kliphuis. As jy ontevrede is, loop maak die graf oop en haal dit uit. Groetnis. Mabel.
Sy wou niks steel nie. Net iets hê om te verkoop wanneer sy die dag wegloop.
God kan nie van haar verwag om Abel te vergewe nie. Al wat sy hoef te vergewe, is haar geslagsdele
wat menslik gereageer het. Sy sit met die koekblik op haar skoot, leun haar kop teen die pikgesmeerde
rietmuur. Ryg sinne aanmekaar uit al drie haar name.
Ek is gemaak mét drange. Dis onnodig dat ék teregstaan namens ’n siek man se siekheid. Ek dra nie
die sonde nie.
Dis al waaruit haar vergifnis hóéf te bestaan.
Kry die sleuteltjie. Rol Lulu toe in die vuil flenniekombers; trek die punt oor haar vaalgeworde oë.
Speld die kombers vas met die doekspeld. Papie in ’n kokon. Sy sal die papie op die tafel by die vergeet-
my-nietjies neersit.
Haar kinder-kind is dood. Die begrafnis sal Sondag wees as feetjiemaan verby is.
Maandag wil sy lentedag vier, kaalvoet in die swartverbrande voortuin.
*
In die middelmiddag, wyl Mabel berg se kant toe is oor iets van Gertruida, staan ek voor die muurspieël
om te kyk hoe my kop gevleg is. Ek sien sleg, maar my vingers voel aan die dunne rytjies vlegsels.
Ek vra vir die spieël: Kwenzekani? Wat het gebeur? Hoe het dit gekom dat ampers allester op
Kiepersolkloof omgesit het in trane? Waar was die begint; waar sal die end wees? Net iNkosi weet. En
Hy los die mens allenig om die somme self uit te werk.
Die jaar toe die ouman op Hermanus gebêre is, sit ek en Samuel die aand en askoek bak. Warme aand,
muskiete om onse ore. Broei in die rivierpoele wat stilstaan. Droogtejaar gewees. Wintertyd het die
taaiboskamp en die fonteinkamp kaal afgebrand. Die koeie het op strepe gevrek van blousuur, oor
verlepte lusern vreet. Tot die bobbejane het naderder aan die werf gekom om te steel uit die groentetuin.
Die donderweer steek op en skiet blinkwit blitse teen die berge vas. Die wind waai die kole rooiwarm
onder die askoeke. Ek vee aanmekaar die asse uit my oë uit.
“Thandeka,” sê Samuel wyl hy sukkel met die askoeke, “daar’s onrus in my oor Abel. Vroemôre toe
ons die John Deere se olie wil aftap, soek ek die kan trekkerolie, en ek kry die ouman se waterskoene
agter die sak lêmeel. Ek wys dit vir Abel, want ek dog hy sal die waterskoene op ’n rak wil bêre, oordat
dit sy pa s’n was.”
“Samuel, jy kan mos nie wil staan en dink dat Abel iets van sy papa …”
“Die ouman is gebegrawe, Thandeka. Ek het gedog sy bitterte sal al teen dié tyd gesak het. Toe sien ek
sy bitterte sak stadig. Want dinnertyd toe ek onder die granaatboom skuins lê, hoor ek .303-skote klap
rivier se kant toe. Ek dog daar’s fout, laat ek eerderder gaan kyk.”
Askoeke afhaal. Vuur doodgooi. Ek sê ons moet in die huis eet. Nee, sê hy, hy wil nie dat Mabel hoor
wat hy praat nie.
Ons sit in die wind en kyk hoe kraak die blitse deur die wolke. Samuel vertel hoe’t hy tussen die riete
deurgekyk en gesien die ouman se skoene is met baaldraad opgehang in ’n treurwilg. En Abel skiet na die
skoene met die grootgeweer.
“Ek sê jou, skoot agter skoot spat die rubber, tot daar net floiings hang.”
“Is sy kwaad wat hy uit homselwers wil wegskiet, Samuel. Onthou, sy papa …”
“Dit verstaan ek, Thandeka. Maar wat ek nié verstaan nie …”
Die woorde kom swaar by Samuel se mond uit. Hy sê hoedat Abel nader geloop het en by die
rubberflenters op die sand gaan staan het. Haal sy swingel uit en tos homself leeg bo-op die stukkend
geskiete flenters van die ouman se skoene.
“Dit maak my bang, Thandeka. Is of hy deurmekaargeraak het met kwaadheid en lekkerkry.”
Ek sê niks. Maar in my hart dink ek ’n man se kwaad sak tot in sy spies. As hy sy spies leegmaak, gaan
’n stukkietjie van sy kwaad weg. Maar dit kom terug. Elkere keer is sy kwaad bietjie meer. Want hy’s
skaam oor hy gemors het op sy papa se nagedagtenis.
Daardie aand kon ek nie wis dat sy kwaad nooit sal weggaan nie. Of dat hy hom by Gertruidatjie sal
gaan leegmaak, en kwaterder en kwaterder raak nie. Uit skaamte, oor hy goed weet mens lê nie by jou eie
meisietjint nie. As ek gewis het sy kwaad sal nooit afblaas nie, sou ek vir Samuel gesê het ons moet die
donkiekar pak en langpad vat, tot ons ’n nuwe huis kry.
Maar mens weet nie vooruit nie.
Daardie Sondag toe’s dit Nagmaal by die dorpskerk. Ek help Missus Susarah met die inlaai van die
Nagmaalbrode en die tjoklitroomkoekies wat agter kerktyd saam met die tee moet geëet kom. Abel kom
buitentoe met die kerkboeke onder sy arm. Swart pak. Wit hemp en das. Blinkgevryfde skoene. Hy’s ’n
mooie man só in sy kerksklere. My kop wil glo Samuel het gelieg oor die ding by die rivier. Maar Samuel
sal nie lieg nie.
“Samuel,” vra ek daardie Sondag se laatmiddag toe hy van die kraal af kom met onse huismelk. Mabel
hoor niks; sy sit in die peperboom met die blokfluit wat Missus Magriet ons gelaat koop het. “Het jou oë
die anderdag reg gesien? Straks het Abel gepie, om te wys wie’s baas op Kiepersolkloof, soos ’n
mannetjieskat …”
Hy lag. “’n Man pie nie só nie, Thandeka.”
Jare later toe Gertruida by Miss Lyla wegkruip, bring Abel ’n winddroë skaapribbetjie vir my en Mabel.
Van ver af sien ek hy’t oumensskouers aan sy sterke lyf. Hy sit by die tafel sonder woorde. Kyk heeltyd na
die vleispot wat op die stoof kook, draai sy oë weg van myne. Ek sien hy’t gehuil. Hy skuif sy piering
kaiings eenkant toe en sê hy’s nie honger nie.
Ek stel my slagyster. “Is jy siek, Abel?”
“Nee. Net moeg.”
“Is baie beeste wat hierdie week bo uit die berge aangeja en gedip is. En jy’t gaan heuning uithaal ook.
Is nie snaaks dat jy moeg is nie.”
Hy sug. Ek wag. Sy praat sal kom. Hy sit sy elmboë op die tafel; hou sy kakebeen in sy hande. “Dis nie
wat my moeg maak nie. Die moegheid sit in my hart.”
Ek moet oppas om my eie slagyster af te trap. “Waffer goeters maak dan jou hart so moeg, Abel?”
Hy’t sy kaiings geëet en geloop sonder om my te antwoord.
’n Maand agter die bybie gebore is, knap ná ek Gertruida van die windpomp af gesing het, het ’n ander
lelike ding gebeur op Kiepersolkloof. Weer te make met geweerskote.
Saterdag gewees. Daar’s nie tennismense nie. Is Mabel se af dag; sy’s Bosfontein toe om Missus Magriet
te vra om haar bibbelteekboeke dorp toe te vat. OuPieta kom sê Abel is doodsdronk, of ek my ore
werfkant toe sal draai, want hy’t vir Pietertjie ’n kettie gemaak en hy wil hom veld-in vat om perskepitte
te skiet, oor die tjint so min het wat hom bly maak. My hart raak sag, en ek gee twee van Mabel se
Huis
genote dat Pietertjie kan blaai. Nee, sê OuPieta, die tjint eet al die bladsye met koekgoed en
lekkers. Dan raak hy ver
stopperig.
Middagtyd sit ek op die bank onder die peperboom na my mama en verlang, toe ek die skoot hoor.
Grootgeweer. Sal my min gesteur het as Abel nugter was. Maar ’n dronk mens hoort nie met ’n geweer te
mors nie. Vat dadelik my kierie en beginte werf toe loop, kastig met ghoenakonfyt vir Missus Susarah.
By die deurkomhekkie klap nog ’n skoot. Ek sê vir my bene hulle moet sterk bly en vinniger loop. Op
die voortrap klap die derde skoot, binne-in die huis. My ore slaan bottoe. Jimmele, wie skiet vir wie? My
eerste gedagte is Gertruida het haar pa en haar ma geskiet, toe haarself. Want daardie tyd toe’s Gertruida
se kopwysies sleg deurmekaar.
Die voordeur is gesluit. Kombuiskant om. My bene loop soos ’n jong vrou s’n om die huis. Die
agterdeur is oop. Saggietjies met die gang af agter Abel se geskel aan. Loer om die kamerkosyn. My oë
kyk dubbeld van skrik, want Miss Susarah en Gertruida sit styf teen mekaar gebondel op die grootkamer
se dubbelbed. Bokant hulle is drie gate so groot soos ploegskare waar die muurpleister uitgeskiet is.
Sementstukke oralster. Miss Susarah se mond gaan oop toe sy my sien. Sy hou vas aan Gertruida se
kniekop. Ek sit my vinger by my lippe, sodat hulle kan stilbly.
Abel staan wydsbeendronk en skree goeters van skandes wat op hóm gepak word en dat hy, en hulle
saam met hom, eerderder vrek voor hy soos die dorp se magistraat in die selle loop sit.
Ek wis ek moet iets doen, versigtig. Want wie sê nie daar gaan ’n skoot af nie? Skuifel om die
deurkosyn, my notsungkierie bokant my kop opgelig. Toe mik ek vir die geweer se punt. Slaan die sware
ding uit sy hande. Volgende ding tref ek hom met die kierie bokant sy oor. Toe hy lê, mik ek vir sy knaters.
Ek sien Gertruida gryp die geweer en sleep Missus Susarah aan haar kamerjas se mou by die deur uit.
“Fokken swartgat!” skree hy en hou sy lieste vas. Ek steur my min. Want hy’s dronk, en môre eet hy
weer askoek met bokbotter by my kombuistafel.
Sy geskreeu raak sagterder. Hy draai op sy maag en beginte huil met sy gesig teen die mat. Ek sit op
Missus Susarah se spieëlkasstoeltjie, oordat my hart terug is by die dag agter die sementdam. Uit my
verre onthoue hoor ek Samuel praat.
Stil maar, stil maar, stil, Babani …
Toe kom die sing vanself by my keel uit. Skoon bewerig, want heeltyd loop my trane. Sendiya vuma,
Somandla … Stuur ons Here, in u Naam …
Knap ’n week later bring hy vir my en Mabel ’n halfsak klein-uitjies en ’n bos spinasie. Ek sien hom
van ver af aankom. Kop onderstebo.
“Môre, Mama Thandeka.”
“Molo, Abel.”
Ons praat niks. Ek sit ’n bakkie witrys met warm melk en kaneelsuiker voor hom neer. Hy eet. Ek sien
hoe bewe sy hand as hy die lepel na sy lippe toe bring.
“Dankie, Mama Thandeka, baie dankie.”
Toe loop hy. Hy trek al ver, toe wonder ek nog of hy dankie gesê het vir die rys, of die kieriehoue, of
oor hy my in sy dronkheid hoor sing het. “Sala kahle, mooi loop,” sê ek saggietjies agter hom aan.
*
Sy lê die papie in die flenniekombers op die rooigrasbedjie neer. Bêre die koekblik. Daar is genoeg tyd
vir ’n beker ertjiesop, dan moet sy loop, voor die mis en die donker kom. Tap water uit die groen
plastiekkan wat Abel altyd op die bakkie saamgery het, en wat op ’n dag spoorloos verdwyn het.
Vuurhoutjies. Stofie aansteek. Ketel opsit.
Luister na ’n hadida se tergende haar-de-daar-skree. Mama Thandeka sê mens moet stilstaan en bid as
’n hadida skree. Want as ’n hadida skree, word ’n baba gebore. En die baba het almal se seën nodig om
sy oë te kan oophou vir ’n mamba.
Daar was niémand wat haar baba wou seën nie. Nie eens syself nie. Dit was nag, nie eens die hadidas
het ge-haarde-daar nie.
Klein slukkies ertjiesop.
Sy was dankbaar sy kon padgee by die tennis; die sweetpakbaadjie uittrek. Skreeu en vloek in die mis.
Dryf in die bergpoel. Met ’n kombers om haar in die kliphuis sit en kyk na die misslierte.
Die kind roer. Sy gru.
Hóé gee mens geboorte? Wat as sy in die veld is en die kind sit vas? Wat máák sy met die kind? Hoe
lyk ’n nageboorte? Sy sal die naelstring met haar Victorinox afsny. Dan sal sy wag tot donker en dorp toe
loop, die kind op die hospitaaltrap neersit. Kan ’n pasgebore baba water drink? Kán ’n mens so ver loop
as jy pas geboorte gegee het? Sy moet eerder die geld in die koekblik vat en by Tannie Lyla gaan
wegkruip.
Nee.
Sy sal haar styf inbind met verbande en kyk of die kind afkom. Of jakkalsgif drink. Of haarself met die
.22 in die maag skiet, daar waar die kind roer.
Vergeet dit.
Beter om die seil op te hang en ’n kers aan te steek. Begin met die Italiaanse sonnet wat die graadelfs
voor Vrydag moet inhandig. Skryf haar volle name boaan die bladsy om te verseker sy gebruik nie
verbode letters nie.
G E R T R U I D A S U S A N N A H J A K O M I N A
Dis die heel eerste keer dat sy haar volle name gebruik. Uit G E R T R U I D A sal sy niks wat sinvol
is kry nie. Dis belangrik dat haar woorde sin maak. Vir Braham. Vir haarself. Ter wille van Andrea en
die bokshuisie.
Woensdag het hulle met die voorgeskrewe poësiebloemlesing begin. Die seuns het gesug toe Braham die
rekenaaruitdrukke met D.F. Malherbe se “Slaap” uitdeel.
“Dis ’n klassieke Italiaanse sonnet. Maklik om te onderskei van ander digvorme. Dit het áltyd veertien
reëls …”
Goeie wegspringplek, veral vir die seuns, want almal begin reëls tel.
“Dit het ’n besliste rympatroon, alhoewel die patroon soms verskil. Maar hier,” en hy het die papier
omhoog gehou, “het ons die rymvorm a b b a a b b a c d c d c d. Onderstreep die laaste woord van elke
reël en kyk of julle dit kan ontrafel.”
Almal ontrafel. Behalwe sy. Sy ken die gedig. Tannie Lyla het die ou digbundel
Klokgrassies
van D.F.
Malherbe gebring toe sy in standerd ses was. “Slaap” is daarin. Haar oë dwaal na Andrea se leë bank.
Hoe lyk oop kopnate, ’n dubbele ry tandjies? Hulle sê die dokter het die webbe tussen die vingertjies
losgesny. Toe sy opkyk, staar Braham na haar. Asof hy tot binne-in haar kyk.
Die kind roer weer.
“Goed,” en hy gaan sit op die tafelhoek. “Agterop die bladsy is ’n Engelse uittreksel oor die