Authors: Annelie Botes
vra wat hoor sy van Andrea, juis Andrea, weet sy hy het gesien waarna sy kyk.
“Niks, Mister Williston. Maar ek kry haar so jammer. Die dag daar by die skool … ek bedoel … sy
was seker skaam om op die vloer … Dalk sou die kind bly leef het as sy eerder ’n keisersnee … Ek weet
ook nie. Ek weet net ek wil nooit eendag trou en kinders hê nie.”
“Hoekom nie?”
“Ek haat mans.” Te driftig, te vinnig. “Ek moet nou loop, Mister Williston, ek moet nog by die apteek
aangaan.”
“Gertruida …?”
Gee pad! Moenie in ’n hoek gedruk word nie. “Ek kom stof volgende Woensdag verder af, Mister
Williston.”
Die volgende jaar is sy terug dorpskool toe om graad elf te herhaal. Sy het gehou by die opmaakstorie van
die skoueroperasie wat Abel en Susarah haar ingedril het. Dat sy besluit het om nie verder skool te gaan
nie, eerder te boer. En toe weer anders besluit het, om eerder matriek te maak en dán te boer.
Hoe gebeur dit dat leuen later soos waarheid lyk? En waarheid lyk soos leuen.
Omtrent twee weke voor daardie fatale dag in Die Koffiekan, sit Braham en koerant lees toe sy opdaag.
Laat, soos gewoonlik, want Vrydae het Abel altyd dringende plaaswerke wat moet klaar voor sy kan dorp
toe. En hy maak ter elfder ure lang koöperasielyste. Elke minuut wat hy haar van Braham kan weghou,
benut hy. Elke Vrydag is sy emosioneel uitgemergel, want Donderdagaande is sy aand van vernedering,
altyd oor Braham se ou pienk tottertjie wat nie sal kante raak in haar nie.
Die Donderdagoggend was hy voor die waenhuis besig om skêre te slyp, toe sy van Mama Thandeka af
terugkom. Haar ma het haar gestuur met ’n bottel suurlemoenstroop en koffiekoekies. Sy kom op die werf
aan en sien hom doenig met die slypsteen. Skuil agter die sederboom se stam en lê met die .22 op hom
aan. Korrel sekuur op sy agterkop.
“Jirretjie, Gertruida,” praat Mabel agter haar. “Het jy kens geraak?”
“Ek mik net, Mabel. Ek sal nie regtig skiet nie.”
“Loop sit weg die geweer, Gertruida, die duiwel is listig.”
Braham sien haar eers toe sy haar stoel uittrek. “Wat lyk jy so beneuk?” vra sy.
“Goeiste hel, Gertruida, het jy die storie van die Oostenrykse man gesien?”
“Nee.” Sy kan nie sê dat sy Donderdagaande níks kan sien nie; soos iemand met vliese oor die oë.
“Lees hier,” en hy draai die koerant om.
Dis ’n berig van ’n man in Oostenryk wat sy dogter vieren-twintig jaar lank in ’n kelder gevange gehou
het. Neëntien jaar oud toe sy in is; twee-en-veertig toe sy uitkom. Sewe kinders gebaar in die kelder met
die lae plafon. Terwyl haar gerespekteerde pa ’n geliefde besoeker in die dorpskroeg is. Goeie
visserman.
Een van die skande-kleindogters is al neëntien. Nog nooit die son of sterre gesien nie. Nagmotte
waarvan die vlerkpoeier afgevryf is. Hoe kon die monster se vrou van niks weet nie? Hoekom het die
nagmotte nie die ouman oorrompel en probeer wegkom nie? Raak afstomping so vasgegroei in jou
menswees dat niks later saak maak nie?
“Dis erg,” het sy gesê en die storm in haar gemoed weggesteek. “Sulke goed gebeur seker uiters selde
…”
“Nogal nie.” Hy het die spyskaart aangegee. “In Suid-Afrika kom bloedskande voor in een uit elke vyf
gesinne. En dis skynbaar onderskat.”
Skrik wat in haar keel klop. Kan dit wees? Hoeveel kinders rondom haar, behalwe sy en Andrea, het
die stil hel in haar skooljare gedra?
“Daar’s ’n dogtertjie van ’n buurdorp in die skool wat koshuis toe gestuur is op welsynsaanbeveling.
Dis hartverskeurend. Sy bewe só, sy kan skaars ’n potlood vashou.”
“Foei tog.” Haar woorde was weg.
Dis ontstellend om die skooltas oop te maak.
Droë wet wipes. Halwe pak pantyliners. Gaan haal haar badkamervullishouer. Weggooi. Sy wil nooit
weer onthou hoe sy met klasruilings badkamer toe gesluip het nie. Tannie Lyla se “Frog Prince”. Skeur
die bladsye op. Gooi in die vullishouer. Handgetekende kaart van Frankryk. Dit het haar baie studietye
geneem, met die kombers om haar ingebinde lyf. Die koste van ’n vliegkaartjie Parys toe onderaan
uiteengesit. Roete tussen Parys en Avignon uitgestippel. Straatadres van die Saint Claire-kerk. Skeur die
kaart in kwarte. Haal die kwarte uit en skeur dit fyn. Sommige reise is té ver. Soos na Avignon. En
jammerlik, maar sy het op die internet gesien die Saint Claire-kerk bestaan nie meer nie. Al wat ná die
Franse Rewolusie oorgebly het, is enkele sy-kapelletjies, die halfrond waar die koor gestaan het. ’n
Tuintjie dui op die plek waar die klooster eens was. Skrale getuienis van Petrarca se verbeelde liefde.
Begrafnistraktaat van Andrea se kind. Dorpshoer. Is dít hoe sy die liefde verstaan?
Vee haar palms aan die wit nagrok af. Vou die bladsy met die sonnet oop. Onthou ’n misnag in die
kliphuis, by kerslig, toe sy die eerste maal met die manipulasie van die letters van haar volle name wou
erkenning gee aan die volle sy.´
G E R T R U I D A S U S A N N A H J A K O M I N A
Sjuut-sjuut
Snags is haar kamer ’n stikkende tronk
haar hand is taai teen die ruiter se stang
uit haar mond neurie ’n mineurgesang
sjuut-sjuut, dis niks, die ruiter is dronk
Daar’s ’n doring in haar ruigtes gesonk
môre gaan die honger regter haar hang
omdat haar maagsak skort aan die drang
om te suig aan die soutkos uit die stronk
Niemand ken die kind se tragedie en seer
miskien het God hom hierheen gestuur
’n donker gedrog in die kamer se deur
dertien jare se maande dat dit reeds duur
maar in hoogson sien niemand haar treur
haar angs is die ruiter, die nag en die uur
Dis lomp en óórskryf. Melodramatiese tiener-emosies. Tog, dit was wie sy tóé was. Sy leun met haar kop
op die skooltas. Ruik potlood, leer. Huil saggies terwyl sy die sonnet opskeur.
’n Week voor die Junievakansie van graad elf het sy die sonnet in potlood op ’n los papier geskryf en in
haar stelwerkboek gesit. Pousetyd op Braham se tafel neergesit op ’n dag toe die graadelfs direk ná pouse
Afrikaans gehad het.
Hy het die klas gegroet, die boek ingedagte oopgemaak.
Haal die los papier uit; vou dit oop. Lees.
Hy kyk op na haar. Sit die papier terug, maak die boek toe.
“Maak julle handboeke oop op bladsy 116. Ons begin vandag met sluiertaal, oftewel clichés, oftewel
holrug geryde woorde en uitdrukkings.”
Met aandete-afkondigings het hy haar kleinkantoortjie toe laat roep. Dit het gevoel of hulle ’n ewigheid
daar sit, sy vingers trommelend op die armleuning van die rusbank. “Gertruida, sê my asseblief, molesteer
jou pa jou?”
Sy antwoord nie, voel die trane in haar oë brand. “Nee, Meneer. Ek het dit namens Andrea geskryf.
Want ek kry haar jammer.”
Hy staan op. Kom tot naby haar. “Hier,” hy hou die papier met die sonnet na haar uit. “Ek wil nie hê jy
moet dit in die boek plak of skryf nie.”
Sonder om te kyk wat is nog in die skooltas, dop sy dit om op die vloer. Bondel alles in die vullishouer.
Kry vuurhoutjies in die blaker op haar ma se bedkassie. Kniel by die tuinengel en pak ’n papiervuur by
die voetstuk. Staan soos ’n spook in die flennienagrok en kyk hoe dit uitbrand. Vaagweg in die winterse
naglug dryf die reuk van wet wipes.
Sy sit die leë skooltas op die potystertafel.
Loop oumensmoeg verby die plek waar Hermanus eens was.
In by die kiaathoutvoordeur.
Dryf weg in ’n diep slaap op die vloerbed.
*
Ek lê op my kooi onder my sawwe kombers. Ek wonder: Iyaphi lendlela? Waarheen gaan hierdie pad?
Vanaand se aand gaan die slaap my gou vat. Die laastere dae het my gekneus. Ek moet rus, anderster
gaan my bene my nooit Maandag tot op die werf kry nie.
Abel het altyddeur gesê die dag as my bene heeltemal onder my ingee, gaan hy vir my ’n rolstoel koop
wat vanself loop, nes ’n kar. Maar sonder petrol. Ek wis nie hoe sal die stoel deur die sandgrond in die
lusernland kom nie, of hoe sal ek regop kom om die deurkomhekkie oop te maak nie.
Agter uitvaltyd het OuPieta met Pietertjie hier aangekom om te sê hy’t Mabel se doodspresent by
Missus Susarah se kant van die graf ingegooi. Pietertjie het oud geraak. Grys peperkorrels, maar die
verstand van ’n tjint. Gaan afdraand met hom met dié dat hy nie meer in die tuin werk nie. Altyd so snaaks
gewees, toe hy nog tuinwerk gedoen het, en hy eet die swart jelliemannetjie. Dan kyk hy die swart
mannetjie, en voor hy sy kop afbyt, draai hy die mannetjie na Missus Susarah en sing-praat: Sê koebaai
vir tant Jakoba.
Maar latertyd wou Abel niemand op sy werf hê wat dálk iets kan steel of breek nie. Nou sit Pietertjie
aldag teen die voormuur en sing soos Missus Susarah hom geleer het. Skemertyd sak sy ken tot op sy bors
en hy kerm soos ’n dors hond, oor niks.
Só stap die jare. Lang paaie agter ons. Oumenspad wat voorlê. My kommer is Kiepersolkloof se pad
vorentoe. Vrouens kan nie met groot diere soos Bonsmaras boer nie. En wie sê Gertruida se plan van
turksvye en klompe werksmense wat sy wil terugbring, gaan goed uitwerk?
Toe Mabel terugkom van die berg se kant af, maak sy mieliekoekies met heuning bo-oor. “Mama,” sê
sy toe sy my bord neersit, “ek kommer sleg oor Gertruida. Sy’t van die kliphuis af gekom het met die pop
in haar arms. Tot by die kop in ’n kombers toegedraai. Mama, hoe weet mens as iemand se kop uitgehaak
is?”
“Jy sal vanselwers sien en hoor en wéét as iemand se kop uitgehaak is.”
Deur die gordynskreef sien ek die nag is vol wolke. Ek hoef nie sterre te soek, of te vra waarheen gaan
hierdie pad nie. iNkosi ken die pad.
Ek gaan liggietjies by die poorte van die slaap in. Verlanges hoor ek Gertruida praat, soos toe sy ’n
meisietjintjie was wat naaldekokers gejaag het.
Raai-raai: Arrie tiet arrie tat, vyf molle in een gat.
Nee, Gertruida, hoe sal ek weet?
Hoe kan jy nie weet nie, Mama Thandeka? Dis maklik, dis vyf tone in een skoen!
Saterdag, 30 Augustus 2008
◊◊◊
Daar lê onheil op haar maag toe sy op die vloerbed wakker word. In haar slaap het sy die sonnet tot
malwordens opgesê; gedroom die feetjiemaan is rooi soos vars bloed. Sy is sat van uitpluis. Bloumaan
wat nie blou is nie. Pikswart feetjiemane sonder feetjies.
Sy was dom om al die suiker en koffie weg te gooi. Sy sal by Mama Thandeka gaan koffie vra. Eerder
nog ’n rukkie lê en luister na die stilte in die huis. Sy wens sy hoef nooit weer te praat nie, nooit weer
tussen mense te wees nie. Net dink.
Verder en dieper soek na Gertruida Susannah Jakomina, die volle sy.´
Vroeg in standerd agt, voor sy ’n rekenaar gehad het, het Mister Williston gesê sy het ’n fotografiese
brein. Soek die presiese betekenis. Die HAT-uitleg is niksseggend. Kry in die tesourus die mooiste
woord. Memorieboek. Sy wil dit in ’n opstel gebruik.
Die volgende staptyd sê sy vir Mister Williston sy skryf net in haar memorieboek neer wat sý wil
onthou.
“Dít,” sê hy, “noem mens ‘selektiewe geheue’.”
“Wat beteken dit, Mister Williston?”
“Daar’s niemand by die rekenaar nie. Gaan google ‘selective memory’.”
Verbysterend. Meer as seshonderdduisend verwysings.
Toe sy haar eie rekenaar later daardie jaar kry, gaan sy daarop in. Sy raak verstrik in die kompleksiteit
van die menslike brein. Al die wêreld se pyn ontstaan omdat iets in die brein ontspoor. As die mens se
gewete gesond is, as sy ingewortelde moraliteit die verskil ken tussen reg en verkeerd, is hy nie in staat
tot monsteragtighede nie. Maar wanneer die sentrum van die mens se gewete aangetas word, word dit
soos ’n gifgas wat hy versprei. Die gifgas tas ander mense aan wat reeds hulle eie gifgasse afskei. Die
gasse meng, en saai die dood sover dit trek.
Holocaust. Lockerbie. Vlakplaas. Stompie Seipei. Jeffrey Dahmer. Jack the Ripper. Seksslaaf-
kolonies wat in die naam van godsdiens bedryf word. Sataniste wat lewende katte slag en fetusse as
brandoffer gebruik.
Alles die produk van verdraaide gewetes, van aangetaste moraliteit.
Wat van Abel en Susarah Strydom? Is Kiepersolkloof enigsins iets anders as ’n klein kolonie van seks
en godsdiens?
Staptye kan sy nie wag om uit Mister Williston se kennisfontein te drink nie. Kom alewig laat by die
koshuis. Matrone hok haar, maar sy loop weg. Die hoof berispe haar oor die verbreking van die
koshuisreëls. Sy sê sy is jammer, maar sy ly aan selective memory disorder. Hy kyk haar amper
middeldeur en sê sy moet Vrydag detensie sit.
Aangename straf, want niemand mag praat tydens detensie nie. Tyd om te dink hoe sy Abel die naweek
gaan tart, watter voetpad gaan sy loop kliphuis toe, wat gaan sy uit Susarah se spens steel. Tyd om sinne
te maak.
Gertruida tuur deur die agterruit. Die taai riet gru Gertruida.
Soms is detensie haar worsteltyd. Het God bedoel dat die mens se verdraaide brein ontreddering sal
saai? Dit maak tog net die wêreld ongoddeliker. Want vir elke klap wat ’n mens se ego kry, draai sy brein
skewer. Elke keer as hy minderwaardig en vernederd en verworpe voel, probeer hy harder om in die
kring opgeneem te word. As hy nogeens en nogeens uitgestoot word, groei sy wraaksug en wantroue.
Onvermydelik word ’n monster gekweek. Niemand bemerk die monster nie, totdat hy beheer verloor oor
sy maskerade, en dierlik word.
Wat het gebeur dat Abel, en Susarah ook, in monsters ontaard het?
Sy trek die komberse tot teen haar nek. Luister na die borrelroep van ’n rooiborsduifie.
Sy moet aantrek en gaan koffie vra by Mama Thandeka. Vandag wil sy Abel se kantoor en hulle