Authors: Annelie Botes
meesterbrein agter die ontstaan van die Italiaanse sonnet in die dertiende eeu, Francesco Petrarca.”
Dís hoekom sy hom liefhet, op ’n ander manier as vir Mister Williston. Braham is slim met woorde.
Hy het ’n aura van mistiek. Hy verlewendig die klas met vertellings buite die grense van ’n handboek.
Ingrid Jonker wat op sestien ’n digbundel
Na die somer
voorgelê het. Alhoewel afgekeur vir publikasie,
het haar onderwyseres gesê: “You are undisciplined and disobedient. But, my word, you’ve got talent!”
Op twintig dig sy tragies:
My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.
Op ’n Julieoggend, net dertig jaar oud, verdrink sy by Drie-ankerbaai. Moeg gelewe.
Heiligmooie stories. Liefhê-mooi. Aanbid-mooi.
Eendag wil sy gaan kyk hoe lyk Drieankerbaai.
Die ketel rittel op die gasstofie. Klop soppoeier en kookwater saam. Vanaand gaan sy ’n bed maak op
haar ontsmette kamervloer. Voor sy gaan slaap, wil sy die hamer vat en die deurknop slaan tot dit afbreek.
As ek die kamerdeur dig kon toemaak, sodat die ruiter nooit kon inkom nie, sou ek nie nodig gehad
het om te kraam nie.
Waarom het Braham begrafnis toe gekom?
Ek sal in Die Koffiekan wag … Laat weet as jy my nodig het, Gertruida …
Sy moes nie op die wildekastaiingblom getrap het nie. Maar sy wóú.
Hulle was besig met maskertaal toe hy iets uit Eugène Marais se bobbejaanstudies vertel het. Oor
hesperiese neerslagtigheid. Heimwee wat bobbejane, mense ook, tref wanneer die son begin sak. Dit
verdwyn eers teen donker.
“Die bobbejaantrop sit stil en die kleintjies kruip teen die ma’s vas,” het hy vertel. “Hulle lyftaal word
smartlik. Hulle maak rougeluide wat huil versinnebeeld …”
Braham sou haar kon wegneem na plekke waar paddaprinse nie bestaan nie. Haar bekend maak met die
siele van Ingrid Jonker, Eugène Marais, Francesco Petrarca, Mark Twain. Dit gee haar rede om te leef.
Dan vergeet sy hoe Abel haar kop teen die muur stamp as sy onwillig is.
Al sit sy in die kliphuis met haar verskerfde lewe, en die tuin lê besaai met ’n leeftyd se gemors, hoor sy
steeds Braham se stem.
“Ons ervaar ook skemerheimwee, maar ons bêre dit agter maskers. Maar dit daar gelaat. Kom ons kom
terug by Petrarca en die Italiaanse sonnet.”
Die klas stink na bordkrytpoeier en skoolkouse. Dit maak haar duiselig-naar. Gister het sy net ’n lemoen
en ’n skyf spanspek geëet. Vier stelle tennis gespeel, byna verswelg in haar sweetpakbaadjie. Tussen die
tweede en derde stel is sy kleedkamer toe om ’n skoon pantyliner aan die swart rekbroek vas te plak.
Gewalg gekyk na die bruin ontlastingstrepie. Tydens die laaste twee stelle het sy verbete gespeel; in haar
kop was elke smeerhou ’n klap na Abel.
“Daar’s twee keuses vir tuiswerk.” Moenie lui nie, klok; sy wil hier bly. “Julle kan die Engelse
inligtingstuk agterop die bladsy vertaal. Of ’n Italiaanse sonnet skryf. Solank dit verband hou met ‘slaap’,
en solank die rymskema korrek is, en solank julle dit voor die einde van die kwartaal inhandig.”
Sy sal albei doen.
Die middag reël sy met Mister Williston dat sy
The Soul of the Ape
van Eugène Marais op langleen
kon uitneem. Sy google Francesco Petrarca, maar daar is mense wat wag vir ’n beurt by die rekenaar. Die
naweek sal sy verder opkyk, oor kringspier ook. Loop koshuis toe, terwyl iets magies rondom Francesco
Petrarca haar na ’n wêreld van sê-noumaar wegsleep.
… famous for his poems addressed to Laura, an idealized beloved whom he met in 1327 in Avignon …
saw her the first time in the church of Saint Claire… . possible that she was a fictional character …
Eendag, het sy op die papierbestrooide sypaadjie besluit, wil sy Suid-Frankryk toe gaan, Avignon toe, en
in die Saint Claire-kerk gaan luister of sy Laura se stem iewers uit die dakkappe hoor.
Drome. Horisonne. Brood vir haar hongerte. Dís wat Braham haar gee.
Dit word kouer, maar die kombers is knus om haar kaal lyf. Sy lig die seil op en sien die misdruppels in
die bosse hang. Dis lekker om nie haar maag in te trek nie. Steek nog ’n kers aan. En begin met die sonnet.
Die tweede kers is byna uitgebrand en dis nagdonker toe sy die fluitjie hoor. Abel soek haar. Die mis
sal die geluid demp; hy moet naby wees. Sê nou daar was ’n skrefie langs die seil en hy het die
kersskynsel gesien? Blaas dood. Aantrek. Luister of die blik met klippers afval.
“Truia! Truia!” Sien hom uit die westekant kom met die jaglamp. “Truia! Waar’s jy, Truia!” Hy hou
verby die afdraai waar die vislyn gespan is. “Antwoord my, Truia!”
Mama Thandeka sê toe Anthonie klein was, het hy in die mis verdwaal. Haar pa het byna sy verstand
verloor. Die gemeente en bure het help soek, die nag deur. Die middag van die tweede dag het Pietertjie
hom aan die slaap gekry in ’n dassieskeur. Gelukkig het hy OuPieta gaan roep, en kon hy die plek weer
kry.
“Truia! Truia!”
Kyk hoe die jaglamp se skynsel oostekant toe verdwyn.
Laat hom ly, die vark. Want die kind laat háár ly.
Sondagmiddag was sy klaar met die sonnet en is sy huis toe in die mis, steeds aan die bid vir ’n hoë
krans. Sy het haar pa langs die rivier gekry waar hy loop en roep. Hees soos ’n kolgans. Sonder om ’n
stokkie te laat kraak, het sy tot agter hom gesluip. “Pa …?”
Swaai om. Blou kringe onder sy oë. Deurweek. “Truia? Dierbare God …” Omarm haar en huil met sy
ken op haar kop. Dis asof die huilklanke uit sy keel in haar brein vasslaan.
Dit was einde April van graad elf.
Drie maande lank was hy haar pá wat sy liefhet. Genaakbare pa wat sê sy moenie tennis speel as haar
skouer seer is nie. Krabbel speel by die kombuistafel. Malvalekkers met klapper van die dorp af bring.
Help om Bamba wat seniel word en in die huis mors, veearts toe te neem. Hulle ry vygieboskamp toe en
braai wors in die vroegwinterson. Hy vra haar insette om die tennisbaan en lapa te laat opknap.
Dis lekker om ’n pa te hê.
Maar elke keer as die kind roer, verag sy hom.
Toe die Junievakansie begin, maak hy haar weer sy maanligdanseres. Sy verskans haar in ’n laken;
speel sy is ’n Oosterse prinses in ’n harem. In sy drif ruk hy die laken af en sien wat sy wou wegsteek.
Volgende dag steier hy dronk op die werf rond.
’n Week later het Mabel haar in die nag gehelp om die Corsa tot buite hoorafstand te stoot, en sy weg
is na Tannie Lyla toe.
Laaste slukkie ertjiesop. Spoel die sopbeker uit. Vat die flenniekombers-papie en die skooltas se sleutel.
Maak seker die gas is toegedraai. Hang die seil voor die opening om slange uit te hou. Gooi ’n skeutjie
water uit haar heupbottel op die grond voor die opening om dankie te sê vir die kliphuis.
Môremiddag sal sy die ander goed kom haal. Mona Lisa. Bamba se halsband.
Wat meisies wil weet
.
Die boek sal sy biblioteek toe neem, mét die boetegeld. Tannie Lyla se
Klokgrassies. Swart strikkie wat
die koster vir haar aangesteek het by Andrea se seuntjie se begrafnis. Foto waar Braham by die
prysuitdeling ’n sertifikaat vir uitmuntende skep
pende stelwerk aan haar oorhandig.
“Dis matriekafskeidkoors by die skool,” sê Braham waar hulle in Die Koffiekan agter die
nooienshaarvaring sit. Hy lyk manlik in sy swart rolkraagtrui; sy effense stoppelbaard laat haar wens sy
kon aan sy gesigvel voel. “Die skoolbiblioteek se boeke is gehawend, maar daar kan links en regs
gespandeer word op ’n matriekafskeid. Maar as ek durf praat van boeke aankoop, wil die hoof die horries
kry. Die onderwys maak my siek, Gertruida.”
Slukkie swart koffie. Kyk na die vroeë winterreën teen die ruite. Sy probeer lag. “Ek sal al my boeke
in my testament aan die skool bemaak.” Ligsinnig. Sy moet haar toenemende depressie vir hom wegsteek.
“Dankie. Maar voor jy dít doen, bemaak die tiende Oktober aan mý, toe?”
Sy het dit sien kom. “Waarvoor?”
“Gaan saam met my matriekafskeid toe, asseblief, Gertruida?”
“Braham, jy weet mos ek sal nooit …”
“Dis die sesde jaar in ’n ry dat ek jou vra. Die vorige vyf jare het ek alleen gegaan. Klim uit jou
kokon, Gertruida, of probéér. Al dans ons nie; al loop jy net ingehaak saam met my by die deur in.”
Ondertoon van strydlus. Sy ken hom nie só nie. “Braham, elke jaar dink ek ons het die kwessie
deurgetrap. En elke jaar in die tweede kwartaal kom dit weer ter sprake.”
Driftig vee hy ’n paar suikerkorreltjies weg. “En elke jaar hoop ek jy sal saamgaan. Laas jaar en
vanjaar wou jy ook nie saamgaan na my ma-hulle toe nie. Ek is twee-en-dertig, en ek is alleen. Eintlik,
Gertruida, is ek eensaam. Ek is nie lus vir die jong onderwysers se paarties en sms-grappe nie. Ek pas
nêrens by die getroudes nie. Ek is nie ’n priester nie, en ek wil nie soos ’n kluisenaar lewe nie. Daarom
vra ek jou vandag mooi dat ons saam by ’n sielkundige uitkom, sodat ons by die kern van alles kan …”
Druk die koppie se rand teen haar onderlip. Mooiste man saam met wie sy nie kans sien om ’n bed te
deel nie. Die gedagte om kaal teen hom te lê, beangs haar. En tog wíl sy. Maar hóé lê mens in sagte
passie, sonder skaamte en walging, by ’n man? Hoe kry Andrea dit reg om oop te maak vir elke jagter wat
klop?
“Nee, Braham, ek gaan nie matriekafskeid toe nie. Ook nie sielkundige toe nie. Ek wil dit nie verder
bespreek of beredeneer nie, nóóit weer nie.”
Hy stoot die bord met die halfgeëte wafel eenkant toe. “Goed, Gertruida. Maar dan wil ek hê jy moet
weet ek gaan Almari Lybrandt vra om saam te gaan, vir die jaareinde se personeelfunksie ook. Sy’s
hopeloos oorgewig en dom, maar sy’s iémand. Intussen kan jy ’n slag ernstig begin dink oor m´y
gevoelens …”
Is selfs Almari Lybrandt ’n beter opsie as sy? Is Braham waaragtig so verleë en belustig dat hy Almari
Lybrandt …?
Haar vingers vou om die bos sleutels langs die melkbeker; haar ander hand tas na haar handsak. Leun
vorentoe oor die tafel. Fluister dringend: “Vat haar, Braham, net wanneer jy wil. Voor ek loop, kom ek sê
vandag vir jou wat is fout met my, sodat jy in afgryse op my kan neerkyk, en jou sonder skuldgevoelens
van my kan losmaak. En jy kan dit maar vertel vir wie jy wil, ek gee nie meer om nie.” Haar hand sweet
om die sleutels. “Vandat ek vier-en-’n-half jaar oud is, word ek deur my pa verkrag en gesodomiseer. Dit
was sý kind wat ek in graad elf verwag het. Emosioneel en sielkundig is ek ’n wrak wat nooit normaal sal
kan funksioneer nie. Ek gaan nie jóú lewe verder opfoeter nie.”
Staan op, hang haar handsak oor haar skouer.
“Sit, Gertruida. Dink jy dít sal my minder lief maak …”
“Tot siens, Braham.” Sy stap weg. Hy gryp haar pols vas. Sy ruk los en stap aan.
Weg. Wegger. Wegste.
Die droom van Avignon versplinter voor haar oë.
Die son sak toe sy in lyn met die vygieboskamp ’n gerf karmosynpienk Septemberbossieblomme pluk vir
Bamba se berggraf.
Skemerheimwee.
Lê die blomme op die grondhopie neer. Skuif die rivierklippe om die rand netjies.
Sy sal alleen Avignon toe reis. En die bietjie lewe gryp waarop sy geregtig is. As sy terugkom, gaan sy
vir haar ’n Jack Russell bestel. ’n Maat wat nooit onder die bed sal inkruip as die kamerdeur oopgaan
nie. Hóm sal sy nie met die .22 ewigheid toe stuur soos sy in haar blinde hartseer met die verswakte
Bamba gedoen het nie.
Toe die donker oor die werf daal, stap sy by die waenhuis uit met die klouhamer. Van ver af hoor sy
die telefoon lui. Uitprop. Dra buitetoe. Dit val ’n gat in die bedding waar die eerste affodille blom.
Mabel sê affodille staan vir hopelose liefde. Sy wil huil oor die gat in die affodille. Maar sy loop weg
asof dit betekenisloos is.
In huis toe.
Vat die klouhamer se steel vas en begin haar kamer se deurknop afkap. Met elke kap voel dit of sy nóg
’n vinger van Abel Strydom afkap. Nog handbene. Geslagsdele. Toe die knop verwoes is, sien sy hom
handloos en ontman in haar gedagtes.
Terselfdertyd sien sy Braham se hand op die bord skryf; hoe hy die antwoordstel oor die koffietafel in
die kleinkantoortjie skuif.
Sy vat Mariebeskuitjies en stap in die donker kraal toe. Ruik vars strooi. Frieda loei sag. Vryf met die
klip. Omskuif. Gesels fluisterend. “Miskien kom slaap ek môreaand op feetjiemaan by jou in die kraal,
Frieda.”
Huis toe in die koue naglug. Stort. Hare was. Haal die wit flennienagrok wat Tannie Lyla daardie
laaste September gebring het uit die linnekas. Sellofaan afstroop. Sy wou dit bêre vir ’n kliphuisnag. Daar
sal nie só ’n nag kom nie. Sny die vuil, wit sweetpak in repe met haar Victorinox. Gooi die toiings op
Ouma Strydom se spieëlkas. Kry komberse uit die linnekas en maak ’n vloerbed.
Vat haar skooltas op die lessenaarstoel. Trek die wit laken weer haaks. Sit kruisbeen op die ontsmette
vloer. Die laaste keer dat sy die skooltas oopgesluit het, was vier jaar gelede toe sy “The Frog Prince”
gebêre het.
Sleutel in die sleutelgaatjie draai.
Bangste bang om op ou paaie te loop.
Kort voor die skool gesluit het vir die Junievakansie van graad elf, sy was ses maande swanger, help
sy Mister Williston rakke afstof. Die kind stoei teen die verbande. Baie verbande gekoop by die apteek.
Verbind haar skouer elke dag. Hulle moenie verwag sy moet tennis of netbal speel nie. Toe kry sy ’n boek
waarin die geboorteproses bespreek en geïllustreer word.
Sy wil nie kyk nie. Sy wil nie wegkyk nie.
Ruk van skrik toe Mister Williston agter haar praat. Klap die boek toe, gee voor sy stof dit af. Toe hy