Thula-thula (afr) (14 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

vrouens en tjinners nie. Groot bakleie oor erfgoed tussen hulle en die ouman. En die tjinners mag nie

hardloop in die huis nie, of ’n lekseltjie op hulle borde los nie.

Toe die ouman gebegrawe word by Hermanus, is hulle nie begrafnis toe nie.

Maar is húlle sake. Myne is op Kiepersolkloof waar Samuel en die donkies waarmee ons hier

aangekom het, gebêre lê.

Vier jare dat Abel in die army was. Toe kom boer hy op Kiepersolkloof. As ek my dinke terugvat na

doerie tyd, sien ek vandag nog hoe staan die blase op sy hande; hoe knik sy kop as hy sy aandkos eet. Hy

werk hom óp, want hy probeer nog altyddeur vir ’n sitplek in sy papa se kop.

Maar my dinkgoed onthou dat iets aan Abel anderster was. Partykeers raak sy oë wild, oor niks. Soos

of daar goeters in sy kop gebeur wat hom benoud maak.

Daar’s min dae dat die ouman tevrede is met Abel. Daardie tyd raak hy te oud om vetveeveilings toe te

gaan. Hy stuur Abel. Toe sit Abel ’n meisiekind van Oos-Londen in die anner tyd.

Missus Susarah.

Sommer in die hof in Oos-Londen getrou. Die dag toe hy met haar in die bakkie hier aankom, waai die

Augustuswind die stof uit die werf uit. Sy’s nog platmaag; net ’n tjintvrou. Toe ek en Samuel haar goeters

afdra, sien ek aan haar soetkyste sy kom uit ’n ryk huis. My neus ruik baklei. Want die ouman knyp sy

beursie toe vir Abel. Kry gewone weekgeld, kompleet of hy ’n beeswagter is.

Daardie tyd dink ek by myselwers dat Missus Susarah ’n mama sal nodig hê. Nie lank nie, toe word dit

waar. Want die ouman loop bo-oor haar. Pap te sout; vleis te taai; brood sleg deurgebak. Dan’s die huis

vuil; sy kerkshemp is verkeerd gestysel. Nooit sê hy sy’t ’n lekkere rosynebrood gebak, of dankie vir die

heelmaak van sy kruisbande nie. Swaarste was seker vir Abel gewees om tussen sy vrou en sy papa te

staan. Want hy wil ’n sitplek hê in al twee van hulle se koppe.

In haar jonkigheid wil Missus Susarah nie elkere naweek draadloos luister en kousies brei nie. Eerste

Saterdagaand toe sy uitgevat staan in haar dansrok vir ’n dans op die dorp, sê die ouman dis geldmors vir

danskaartjies en petrol en brandewyn. Hy vat die bakkiesleutels en gaan kamer toe. Kos haar die rok

uittrek en draadloos luister.

Só vertel sy die Sondag toe sy oorloop tot hierso, wyl die ouman kerk toe is. Ons sit op die

voortrappies en drink tee uit die pienkrandjie-koppies wat Samuel vir my gekoop het uit Bonsmara-geld.

“Thandeka, die ouman bring moeilikheid tussen my en Abel. Ek sal nie stilsit en kyk hoe die suinige ou

ding hom verneder nie. En ek gaan nie langer in ’n stowwerige werf vaskyk nie. Ek gaan tuinmaak.”

“Jy moet suutjies trap, Missus Susarah, anders gaan jy ’n adder raak trap.”

Die Maandag loop sy tot by die grootpad en staan en hike dorp toe. Missus Magriet van Bosfontein

kom eerste verby en laai haar op. Wragtig, sy koop ’n kar op die dorp, uit die boks uit. Ek sien hoe bal

die ouman sy vuiste in sy sakke toe sy onder die olienhout stop. Die kar lyk meer na ’n blomtuin as na ’n

kar. Sy dra af, spuit nat. Terug dorp toe. Bring nog plante en die wit tuinengel, ampers so hoog soos ’n

mens. Uitvaltyd kos dit Abel en Samuel die engel op goiingsakke trek tot waar sy hom wil hê.

Die ouman grommel oor die werksmense wat moet skoffel in die spanspekland en ertappels wat

opgeërd moet kom. Hy sê sy moet self regkom met pik en plant. Toe vat sy Pietertjie waar hy in die skadu

van OuPieta se werfturksvye sit en rowe afkrap en eet. Nog altyd dat ek so ’n jammerte het vir OuPieta

oor die tjint. Mos met die naelstring om die nek gebore. Sy oë was kwalik oop, toe loop sy ma weg met ’n

man van die skeerspan. En OuPieta sit tot vandag met die grootmens-tjint. Nooit skool geloop nie. Tot

Missus Magriet het opgegee om hom tot by vyf te leer tel. Maar hy kan ’n graaf vashou en hy hou van die

liedjies wat Missus Susarah hom leer. Bo-op allester kan die ouman niks sê nie, want sy betaal hom.

Die tuin raak mooi. Pietertjie werk hard en lag baie. Dag vir dag kry hy lekkergoed. Naderhands so

uitgevreet, wil net jelliemannetjies eet. OuPieta kry sy geld, want die tjint snuit sommer sy neus met ’n

tienrandnoot.

Eendag rol ons skilferdeeg, toe sê sy dis ’n mannetjieengel. Hy’s haar soldaat. Sy skink tee in die

getjipte koppies wat nog van die oorle’ ouvrou se tyd af kom.

“Thandeka,” sê sy, “jy hoef nie uit ’n blikbeker te drink, of buitekant te sit met jou tee en oggendbrood

nie. Jy’s my ma hier op Kiepersolkloof.”

“Waar’s jou regte ma?”

“Ek sal jou anderdag vertel, want ons word afgeluister.”

Ek kyk om en sien die ouman leun teen die deurkosyn. Ek sit my koppie agter die soutblik, anderster sê

hy weer op Kiepersolkloof word nie geselskap gehou met die meide nie, en die meide het hulle eie

bekers. Netnou kom daar weer kombuisbaklei soos toe sy vir hom gesê het sy kies my geselskap bokant

syne. Einde van die baklei was dat sy van die dorp af kom met drie nuwe koppies en pierings. Vir haar en

Abel en vir my. Sê vir die ouman hy kan uit ’n getjipte koppie drink. As hy te arm is vir koppies, s´y is

gewend aan drink uit ordentlike koppies. En hy moenie kwade geselskap maak in haar kombuis nie.

Jóú soort is gewoond aan énige geselskap, en jóú lippe drink uit enige koppie, sê hy en kyk na haar

maag.

Skemertyd toe ek melkdoeke spoel by die buitekraan, hoor ek deur die ouman se kantoorvenster hy en

Abel stry. Oordat sy papa sy vrou treurig behandel. Die ouman sê dis oor Abel sy ding oralster indruk,

wyl hy by die veiling moet wees. Dié dat hulle nou opgeskeep sit met ’n semel op die werf.

Die aand by die vuur sê ek vir Samuel ek wis nie hoekom die ouman Missus Susarah so doodknip op

elkere hoek en draai nie.

“Nee, Thandeka, hy knip eintlik vir Abel. Maar ek sien die dag aankom dat sy haar kar vat en aanry.”

Daar trek ’n sidderte deur my.

“Ander ding wat jy miskyk, Thandeka, is dat sy straks onder ’n kwaai pa gestaan het. Nou haal sy haar

kwaad vir hóm op die ouman uit. Jy moet haar uitvra van haar pa en ma. Straks hoor jy iets wat jy hoort te

weet.”

Ek bid dat die mannetjie-engel oor haar én Abel sal waghou. ’n Punt van sy vlerk oor die ouman sal

oophou, want iewerster in sy tjintdae het sy papa, of dalk sy mama, hom liederlike skade gebring. Dié dat

hy Abel skade aandoen.

Teen die tyd dat Missus Susarah al agteroor loop van verwagtendheid, gaan haal ek en sy teen die laatte

hoendereiers uit.

“Ek is bang vir die geboorte, Thandeka.”

“Hoekom laat kom jy nie jou mama hiernatoe om by jou te wees nie?”

Daar sak sy op die hokvloer neer en huil dat ék glads pyn. Vertel van haar papa en mama. Die

hoenders klim al op die stokke, toe sit ons nog in die aandwarmte. Eintliks wil ek my ore toedruk om nie

te hoor hoe haar mama met ’n man weggeloop het anderland toe nie. Los haar tweeling-meisietjinnertjies

by hulle papa agter. Nooit teruggekom nie.

Haar papa teel ramme, dié dat sy by vetveeveilings kom. Die tyd toe sy en haar sustertjie tieties kry,

breek hy hulle in soos ooie wat moet ram vat. Lyk of sy luste nooit gaan end kry nie. Twee bybies wat

haar suster van hom gehad het, al twee opgegee vir aanneming. Maar niemand wil hulle aangeneem het

nie, want hulle was gebreklik. So by so moes hulle in ’n plek vir gebreklik tjinners gesit kom. Toe slaan

haar pa eendag langes die ramkamp dood neer van ’n hartaanval. Klomp geld geërwe, sy en haar suster.

Huis in Oos-Londen.

En vreestelike smarte in hulle siele.

Daar in die hoenderhok wis ek dat ek haar mama moet wees. Maar daardie dag het ek nie gewis van al

die smarte wat nog vir Kiepersolkloof voorlê nie.

Toe sy met haar bybie by die huis kom van die dorpshospitaal af, draai sy hom toe en gee hom vir sy

oupa vir vashou. Hy sit kruisarms; sê hy vat nie aan ’n semeltjie nie.

’n Uitgefraiingde hart is swaar om weer vasgevleg te kry.

Anthonie kon al sterk sit toe sy die Sondag, wyl Abel en die ouman kerk toe is, by onse huis aankom

met die tjint op haar heup.

“My kar is gepak,” sê sy. “Ek ry terug Oos-Londen toe, na my suster toe.”

Die aarde draai met my.

“Samuel, jy moet naweke vir Pietertjie jelliemannetjies koop.” Sy hou ’n koevert na Samuel toe uit.

“Los die tuin dat hy vergaan. Hier’s aparte geld,” en sy gee ’n lapsak van die bank, “om weg te loop as

julle wil wegloop. Kom na my toe as julle nêrens anders het nie. My adres en telefoonnommer is op ’n

papiertjie in die sak.”

“Jirretjie, Missus Susarah, laat ons eers praat …”

“Daar’s niks te prate nie. As die ouman vrek, bel my van die huisfoon af. Dalk kom ek dan terug.”

Stoffietjie in die verte.

Weg.

’n Jaar agter die dag toe Missus Susarah weg is, het Mabel gebore gekom. Nog een jaar later, toe die

umfundisi Kiepersolkloof toe kom op kerksbesoek, het die ouman beroerte gekry toe ek die witte tjint

werf toe bring en vra die umfundisi moet haar doop. Kon nooit weer praat nie; swaar geloop met ’n

kierie. Daardie tyd haal ek die papiertjie uit en bel Oos-Londen toe. Die dag toe Anthonie drie jare oud

word, het haar kar onder die olienhout gestop, met al hulle soetkyste. Dieselfde jaar het Abel sy papa

Hermanus se ouetehuis toe gevat.

Ampers vier jare later, op Nuwejaarsdag, het Gertruida gebore gekom.

Nog twee jare later is die ouman Oorkant toe, en Missus Susarah het van Hermanus af gekom met die

skulp vol seepampoentjies.

Een jaar later is Anthonie en Samuel saam weg hemel toe.

Altesame tien jare van swart geeste.

Asof genoeg nooit genoeg is nie, kom slaan die duiwel sy kloue in Abel vas vir nóg twee-en-twintig

jare.

Al daardie jare hardloop Missus Susarah weg van die waarheid. Sy kry haar valse waarheide by die

VLV. In annerland. Damesgoeters. Kerksake. Tuinmaak. Maagwerkings. Eet soos ’n rusper om haar

hongerte stil te eet. Drink bottels kopseerpille. Dink dit sal haar pyn laat thula. Nooi bollings mense

Kiepersolkloof toe. Sit haar laggesig op. Maak of sy gelukkig is.

Die honger bly haar knaag. Want knap agter haar laggesig sit haar huilgesig.

En wanneer die duiwel in die huis ronddwaal, wis sy nie om hom uit te jaag nie. Sy kén die duiwel,

want sy’t ook so ’n duiwel-papa gehad. Liewerster loop lê sy in die donker kamer met ’n kompres op

haar kop. Wyl Gertruida ondertoe in die gang moet instaan vir als wat verkeerdom gedraai is in almal se

koppe.

En laat ek nie my eie kop uit rekening los nie.

Agter dinnertyd kom Mabel terug en sê dit smaak haar Gertruida gaan die huis afbreek. Dit lê gesaai van

klere en matraste en kooigoeters. Hangers, los laaie. Gertruida slaan tot haar ouma se mooie

dresstafelspieële stukkend op die stoeppilaar.

“Mama moet gesien het hoe stoot Gertruida haar oorle’ ouma se dresstafel oor die stoep met die

koevoet se punt, tot dit teen die trap afneuk.”

Nou lê ek my en kommer dat sy té kwaad sal raak. Die brief wat sy dinnertyd onder die klip gesit het,

praat hoeka van brand. Sê nou sy brand die huis af? Al die jare raak Gertruida stadig en stilweg kwaad.

Tot op ’n dag dat die kwaad oopbars.

Soos die vreestelike agtermiddag toe sy met die geweer by die windpompleer op is, so ’n maand agter

die tyd dat sy teruggekom het uit Oos-Londen nadat die bybietjie gebore gekom het. Wou kop eerste van

die windpomp afgeduik het. Soos ’n malgeraakte mens geskreeu dat sy die een wat by die leer probeer

opklim se kop van sy lyf af skiet. Dat sy nié afgehaal wil wees nie; dat sy wíl vrek.

Daardie dag kos dit my almal wegja en alleen by haar bly. Pleit en sing tot agter donker om haar van

die windpomp af te kry.

Thula Thula Thula, baba, Thula sana, Thulu umamuzobuya ekuseni … Toemaar, tjintjie, toemaar,

tjintjie … Môreoggend kom jou mama …

Dit kon netsowel anderster uitgedraai het.

Met die windpomp. En met die bybietjie.

Is goed Mabel loop spaai. Ek kan nie werf toe met my jig-bene nie. As dinge lelik loop, gaan ek Mabel

stuur om te keer. Want as jou wysies deurmekaar raak, doen jy goeters wat jy nie kan omdraai en regmaak

nie.

Soos wat Abel gedoen het.

Missus Susarah ook, deurdat sy haar oë toegeknyp het.

Ek ook. Deurdat ek geglo het is beterder om te thula oor die sake van die mense waar ek werk vir my

en Mabel se brood en botter. Hoe kon ek vooruit weet wat sal gebeur het as ek nié ge-thula het nie?

Hier lê ek met die skemertes van my hart. Buitekant slag Mabel die hokhaantjie, al is hy nog maer. Op

die werf gooi Gertruida haar kwaad in die tuin uit. Ampers asof sy haar mama met die goed in die gesig

gooi.

En al wat ek vra, is die seën.

*

Die laaste bondel wasgoed hang.

Haar lyf voel sag en maagdelik in die wit sweetpak. Om te stort, wetend dat Abel nooit weer op die

rottangstoel sal sit nie, is verlossend.

Die verfbesmeerde oorpak en die bondel begrafnisklere lê op die Christ’s thorn.

Elke Pase het die godliewende Susarah ’n krans gevleg met Christ’s thorn-takkies. Paasvrydag is sy en

Abel Nagmaal toe met tuisgebakte ongesuurde broodblokkies vir Paasnagmaal. Ry vroeg om dit te

rangskik op die silwer-konsistorieborde.

Elke keer was daar ’n geveg omdat sy nie wou saamgaan nie. “Julle wéét ek vier nie Paasfees of

Kersfees nie! Los my uit om my eie heil …”

“Gertruida,” en Susarah sit die Bybels en gesangboeke op die muurstaander, langs Anthonie se foto.

“Ons vier die kruisiging met respek, hou op met jou godslasterlike Kwakertwak. Jy maak van ons gesin ’n

bespotting.” Abel kom uit die kamer, besig om sy wit ouderlingsdas te knoop. “Jou pa voel presies nes

Other books

Tru Love by Rian Kelley
The Pilgrim Song by Gilbert Morris
Captain by Phil Geusz