Thula-thula (afr) (17 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

eerste dag in graad tien het sy skraps geëet. Die koshuismeisies het daarvan gehou. Meer op húlle borde.

Vir die eerste keer was sy in tel; was daar iets van háár wat almal wou hê.

Ek kry Gertruida se poeding. Ek kry Gertruida se gebakte aartappel. Ek het eerste gesê ek wil

Gertruida se rys en sous hê. Ek ruil met jou, Gertruida; my blaarslaai vir jou skyf avokadopeer.

Soggens voor die opstaanklok lui, is sy in die badkamer om die kooipisterreuk af te skrop. Waar sy

altyd geweier het om aan sport deel te neem, het sy begin tennis speel. Geensins omdat sy wóú nie, maar

omdat Braham Fourie die tennisafrigter was. Enigiets om naby hom te wees.

Haar pa het daarvan gehou. Duur raket, tennisklere, sportskoene. Soms het hy haar genooi om saam met

die grootmense te speel, maar sy wou nie. Speel eerder ’n stel saam met hom voor die mense opdaag.

Leergierig, want terwyl hulle op die baan is, is hy haar pá. Selfs al raak hy aan haar om iets te

demonstreer, gril sy nie.

Só moet jou greep wees vir ’n voorhand, Truia. Só vir ’n rughand. Kry ’n stewige greep op die raket.

Moenie jou opponent dophou nie; hou die bal dop. Bly op jou tone. Antisipeer jou opponent se taktiek.

Gooi die bal hoër as jy afslaan; swaai jou raket verder terug vir ’n kragtiger kishou. Volgende week oefen

ons die valhoutjies en lughoue.

Slurp elke wenk op. Sy wóú Braham Fourie beïndruk.

“Skote Petoors! Binnekort speel jy my van die baan af!” Haar pa lag wittand met haar. “Jy’s goed met

instorm op die valhoutjies. Kyk,” en hy wink haar nader, “as jy jou opponent by die net het, speel oorkruis

vir die hoek. Of speel ’n lughou oor sy kop, laat hom terughardloop, dan moet hy ’n noodhou speel terwyl

hy van balans af is. Dis ás hy betyds daar kom …”

Skaars het Braham Fourie sy koffers in sy koshuiswoonstel uitgepak, of hy word verkies tot diaken,

nogal vir die koshuiswyk. Háár diaken.

Toe doen haar pa iets waarvoor sy hom geseën het. Hy maak Braham Fourie deel van Kiepersolkloof

se tenniskorps. Die man kán speel, het hy gesê, hy lyk verniet so tingerig. Saterdae het die spil van haar

lewe geword.

Sy is nie meer met Bamba veld toe nie.

Anthonie se Bamba was lankal dood, in haar sub A-jaar. Braafheid, en die instink om haar te beskerm,

het hom ’n pofadder laat aanvat. Sy het getreur. Min geëet. Sleg geslaap. Onder die sipresboom gesit

waar OuPieta hom begrawe het. Toe hoor sy haar ma sê vir haar pa hy moet ’n plan maak om vir haar ’n

nuwe Jack Russell te kry.

Jy moet stilbly, Truitjie … As jy stilbly, bestel Pappa vir jou uit die
Landbouweekblad
’n nuwe hondjie

vir Kersfees. Trek uit jou broek, dan sit jy op my bors, met jou bene oor my skouers. Komaan nou, skuif

nader …

As die moeg agterna haar lyf verlam, sê hy altyd sy mag nie praat nie.

Thula-thula. Sjuut-sjuut.

Einde van sub A het sy vir Kersfees ’n Jack Russell gekry.

Mooiste hondjiebaba. Sy het hom ook Bamba gedoop. Asof sy Anthonie wou laat voortleef.

Sy wil nie nou aan Bamba se dood dink nie. Veertien onafskeidbare jare. Drie skote voor hy stilgelê het.

Die laaste twee patrone het sy in die lug afgeskiet. Salvo. Mens moenie te veel aan die dood dink nie. Of

hoe Braham Fourie nooit in jou hart doodgegaan het nie.

Van die dag toe sy pak gekry het oor sy gelag het vir Andrea se ma, het sy die tennisbaan vermy.

Toe word Braham Fourie deel van Saterdae.

Haar en Bamba se veldekskursies het doodgeloop. Hy het op die bokhaarvelletjie in haar kamer

geslaap, deur toegetrek sodat hy nie ’n laspos is nie, terwyl sy haar ma by die lapa help met versnaperings

en voorgeregte. Saterdae dra sy suurlemoenpons en yswater aan tussen stelle. Was glase. Skep op. Dra

vuil borde weg. Maak asbakke leeg.

Sondae neem sy Bamba veld toe. Loop in die rooigras; droom van Braham. In haar kop het Hy langs

haar geloop. Sy het vir hóm swartbessies gepluk, of ’n wildevy geskil. Wolkpatrone en bosbokspore

gewys. Hoe die watereend haar nes verskans met ’n blarekombersie as sy ’n rukkie lank weggaan. ’n

Haasnes, snoesig gevoer met haashare, twee kleintjies in die nes.

Drome. Vergesogte drome.

Soms, net soms, het sy naby haar ma gevoel in die lapakombuis.

Een wintersnag het sy vir Abel gesê sy sal enigiets kies uit die

onderste spieëlkaslaai, as hy vir haar ’n tennismasjien koop.

Sy het die tennismasjien gekry.

Op ’n ander keer het sy met ’n swart suspender belt en visnetkouse aan in die maanlig voor die venster

gestaan, op voorwaarde dat sy in die Septembervakansie ’n tennisafrigtingskursus in Pretoria kan

bywoon. Dúúr kursus. Vliegkaartjie. Hotelverblyf.

Dans in die maanlig neem hoogstens ’n uur.

Die tenniskursus het haar in die skool se eerste span laat instap.

Stink Gertruida stink nie meer nie. Dom Gertruida is slim met tennis. Matrone sê die kinders mag haar

nie spot oor bed natmaak nie, want sy is gebore met ’n blaasdefek. Sodra sy volgroeid is, gaan dit met ’n

operasie reggestel word.

Opmaakstorie van Susarah.

Eendag sit sy agter die skoolsaal by die vullisblikke haar koshuis-konfytbroodjie en eet. Andrea kom

soos ’n geskopte hond om die hoek en vra of sy by haar kan sit.

“Sit maar.”

“Ek wil jou iets vra, Gertruida.”

“Vra maar.”

“Wat is ’n blaasdefek nou eintlik?”

“Ek weet nie, Andrea.”

“Ek hoor dan jy het ’n blaasdefek?”

Sy het dadelik gesnap. “Dis my privaat sake.”

“Asseblief, Gertruida, vertel my hoe gaan hulle dit regmaak?”

“Dis vir die uroloog om te besluit, Andrea. Hoekom vra jy sulke goed?”

“Want … want … ek het ook ’n blaasdefek.”

Die koudste skrik gryp haar. Sy het dit al die jare geweet; vanaf die keer toe hulle klein was en Andrea

haar wou lek. Gooi die konfytbrood vir die miere. Dit eggo in haar. Ek het ook ’n blaasdefek … ook ’n

blaasdefek … Dan was sy verkeerd toe sy gedink het ’n landdros is ’n betroubare man, en dis onmoontlik

dat hy sy dogter sal misbruik. Speel saam, om Andrea te laat loop. “Ek sal jou sê sodra myne reggemaak

is.”

“Dankie, Gertruida, dánkie, dánkie, dánkie.”

Soveel as wat sy die spieëlkaslaai verfoei het, net soveel was die voordele. As mens klein is, het jy

nie listige bybedoelings nie. Jou lyfie kry net seer, oor en oor. Maar jy is gehoorsaam, want jou pa sê dis

hoe die liefde werk.

Maar jy bly nie vir altyd klein nie.

Daar kom ’n tyd dat jy weet naglikkewane bestaan nie. Maar daar is ’n tjekboek en kredietkaart

waaruit jy kan suig. Dit maak jou magtig om te weet jy kan iets van Abel beheer. Jy raak parmantig.

Manipulerend. Kwetsend. Sarkasties. Soete wraak om, as dit jóú behaag, poppekas te speel met jou pa en

ma.

Soos met die motor wat sy wou hê.

Enkele dae voor die skool begin vir haar graadelfjaar, stuur haar pa haar dorp toe vir dipstof en

melksalf en ’n windpomp-onderdeel. Die dorp is stil. In die verbyry sien sy die wit Corsa in die garage

se vertoonvenster. Sy wil die Corsa hê. Maandae en Vrydae se saamryery moet einde kry. Padgunsies

ook. Stap by die garage in en vra die prys. Haar pa gaan iets oorkom. Hou die motor vir my, sê sy vir die

eienaar, my pa sal dit in die week kom betaal. Dis my agtiende verjaarsdagpresent.

Terug by die huis stuur haar pa haar om te gaan soutlek uitsit in die taaiboskamp en te kyk na die

watersuiping.

“Nee, ek sal nie. Ek is nie ’n plaasjong nie.”

“Here, Gertruida, moenie my tart …”

“Moenie die Here se Naam ydellik gebruik nie. Julle wil hê ék moet kerk toe gaan, maar miskien moet

júlle liewer uit die kerk bedank. Want julle moet bepaald vir God ’n verleentheid …”

“Gaan sit die soutlek uit, Gertruida, en hou op om my siel te vertoorn.”

“Ek het die wit Corsa by die garage laat reserveer. Gesê Pa kom dit later die week betaal. Ek het ’n

afspraak gemaak vir my lisensie.”

Hy verskeur haar met sy oë. “Jy’s bemoerd in jou kop, Gertruida!”

“Pá sal die beste weet hóé bemoerd ek in my kop is. En hoekom.”

Toe die skool begin, stop sy by die koshuis met haar wit Corsa. Soms is dit lekker om te hê wat ander

kinders nie het nie.

Maar soms wens jy dat dit wat jy het, liewer aan iemand anders behoort. Soos die kind wat op

Paasvrydag van haar graadelfjaar vir die eerste keer in haar geroer het. Lemoenduifie se borsveertjie in

die wind.

Abel en Susarah was al terug van die Paasnagmaal, toe sit sy nog by die sandkruis en huil. Omdat sy te

lank gewag het vir ’n aborsie. Omdat Braham Fourie haar sal verag. Omdat sy nie weet of die kind

gebreklik gaan wees nie. Omdat sy nie weet hoe om te sê wie is die pa nie.

Die winter was naby. Steek dit weg. Speel tennis met ’n sweetpakbaadjie aan. Dra ’n trui onder haar

skoolbaadjie, sodat niemand sien haar skoolrok se rits is oop nie.

Abel het dit eerste gesien, in die Junievakansie, toe hy die laken wat sy kastig om haar gedrapeer het in

’n afstootlike konserttoneel, afgeruk het. Die volgende dag was die enigste keer dat sy hom in die middel

van die week op die werf sien steier het. Koffietyd die middag het sy en Susarah hom van die waaiertrap

af ingesleep.

“Wat gaan vandag met jou pa aan?” het Susarah gevra toe hulle met hom tot op die bed geswoeg en sy

skoene uitgetrek het. “Hy drink nooit in die week nie …”

Toe Susarah omdraai om sy skoene te bêre, staan sy kaalbolyf, in haar bra, trui in die hand. Swanger

standbeeld wat na die slapende Abel kyk. Susarah se gesig vergrys.

“Skoolseun-fokker,” spoeg-sis sy.

’n Ander Susarah as die VLV-Susarah, of die kerk-Susarah, of die pilsuiper. ’n Susarah wat sy nog

nooit ontmoet het nie.

“Ma droom,” spoeg sy terug.

“Met watter fokker het jy loop lê?”

“Ma weet mos ek lê net met één.”

“Hoe sal ék weet? Ek pas nie jou lêplekke op nie.”

“Ek wens Ma het.”

Toe los sy hulle in die skemer kamer. Loop deurkomhekkie langs na Mabel toe. Nie later nie as môre,

moet sy vir Mabel wys waar is die kliphuis, want sy wil padgee op Kiepersolkloof voor die vakansie

verby is. Daar is goed in die kliphuis waarvan iémand moet weet, vir ingeval sy nooit terugkom nie.

Die volgende oggend het Mama Thandeka werf toe gesukkel met haar kierie. Om te sê Mabel sal nie

vandag in die werk staan nie, sy’s voor sonop saam met ’n geleentheid van Bosfontein dorp toe met ’n

tandpyn.

’n Week voor die skole begin, is sy in die nag met haar Corsa weg na Tannie Lyla toe. In die volmaan-

rypnag het Mabel gehelp om die motor oor die knop te stoot. Mabel spring in, ry saam teen die afdraand

tot by die laagwaterbruggie waar sy kon aanskakel sonder dat Abel hoor.

“Vaderland, Gertruida, jy moet laat weet as jy anderkant kom.”

“Jy sê vir niémand waar ek is nie; nie eens vir jou ma nie. As my geld opraak, sal ek sms, dan vat jy

geld uit die koekblik en sit dit op my spaarrekening as jy dorp toe gaan.”

“Ek het ’n ander plan, Gertruida. Ek sal my opstop en maak of ek pregnant is. Dan kry jy die bybie en

bring hom in die nag vir my. Ek sal hom hier by die brug by jou kom vat, dan maak ek en Mama hom

groot. Ek sal sê dis ’n ander wit man van die dorp se tjint …”

Die trane het teen haar koue wange afgeloop. “Nee, Mabel, ek dink die kind gaan gebreklik wees.”

“Ek en Mama sal hom nogtans grootmaak.”

“Nee. Ek wil nie die kind ooit sien nie. Klim nou uit, ek moet ry.”

Deur oopmaak. Ysnagkoue wat inwaai. “Ek gaan vir jou verlang, Gertruida …”

“Jy moet mooi kyk na Bamba, asseblief, Mabel.”

“Ek sal.”

Aanskakel. Stadig wegtrek sonder kopligte. Die volmaan maak die pad silwer. Verby Bosfontein se

afdraai skakel sy die kopligte aan. Alleenpad. Draai die musiek so hard dat die kind tekere gaan. Ry en

ry.

Dagbreek was sy by Tannie Lyla.

Vroegskemer sit sy die melk en eiers onder die kiepersol. Onder die kluit is ’n plastieksak met vier snye

brood en ’n grondboontjiebotterbottel vol heuningkoekstukke.

Die aandster sit hoog toe die houtkombuistafel oor die stoepmuur tuimel. Sy hoor die oleanderboom

skeur. Nog die Morrisstoel, dan is die kombuis leeg. Van vrieskaste, tot gebarste seepsplinters.

Speserypotjies, vadoeke, potte, glase, opskepbakke.

Alles.

Voor sy alles kon uitkry, het sy die gang leeggemaak om kombuistoestelle op ’n kombers gangaf te

sleep. Besoekersboek. Oupa Strydom se portret. Die portretglas bars toe dit die hoek van die hangkas

tref. Staan onseker met die Familiebybel. Mag sy dit weggooi? Wíl sy? Stap sy om die hoek, potystertafel

toe, waar die hemel was toe Anthonie ’n seuntjie-engel was en sy met haar driewiel by hom gekuier het.

Skuif die pot met blou vergeet-my-nietjies eenkant toe en lê die Familiebybel op die tafel neer.

Party goed word nie weggegóói nie.

Sy sal ’n gat spit in die familiekerkhof, en dit eervol begrawe.

Vat die halfmaantafel aan die pote en slaan die ander pot met hen-en-kuikens van die pilaar af. Skiet

die pote oor die gras. Hoedestaander. Abel se hoed en reënbaadjie. Landbou
weekblaaie. Sweep wat

Oupa Strydom gevleg het. Kleikruik wat Susarah uit Jerusalem laat verskeep het. Bak met droë
granate.

Staan besluiteloos voor die swart-en-wit foto van Anthonie. Lees weer die datums: 3 Februarie 1975 – 3

Februarie 1985. Die aanhaling uit Alfred Lord Tennyson se gedig “In memoriam A.H.H.”, wat Susarah in

sierletters onderaan geskryf het:

’Tis better to have loved and lost

Than never to have loved at all.

Elke keer as Abel sy hoed ophang, kyk hy daarin vas. Hoekom moes Susarah dit juis dáár sit? Ná

Other books

Extra Sensory Deception by Allison Kingsley
Bartered by Pamela Ann
Seagulls in My Soup by Tristan Jones
The Redeemed by Jonas Saul
La Bodega by Noah Gordon
Aranmanoth by Ana María Matute
Primary Colors by Joe Klein
A Cowboy’s Honor by Lois Richer