Authors: Annelie Botes
Anthonie se dood kon hy nie kom koffie drink sonder om met die instap aan sy aandadigheid herinner te
word nie.
Sy sit die foto by die Familiebybel op die potystertafel. Dis tyd om Anthonie vir die tweede maal te
begrawe.
Muurmat uit Turkye. Ougoud en rooi. Susarah het die mat teruggebring toe sy saam met die Jong Dames
Dinamiek getoer het. Terwyl Susarah weg was, het sy begin menstrueer. In daardie dae van skaamte en
twyfel het Abel begin om haar te sodomiseer.
“Moenie toeknyp nie, Truitjie. Sit jou knieë wyer uitmekaar, laat sak jou bolyf.”
Daar was ’n kramppyn in haar derms, dit het gevoel of sy alle beheer verloor toe hy sy Vaseline-
vinger …
Nee, maak nie saak hoeveel die mat werd is nie, sy wil dit nie hê nie.
Toe die opstaanklok die Woensdag in haar standerdvyfjaar lui, is haar koshuislaken en pajamabroek
vol bruin bloedvlekke. Skrik. Nie oor die bloed nie. Aan bloed op die laken is sy gewoond. Maar dis
afstootlik om met ’n pak sanitêre goed by ’n kasregister te staan. Almal weet daar kom bloed by haar uit.
Nog erger om te dink sy kan verwagtend raak.
Haar ma is in Turkye en kom eers volgende naweek terug. Buitendien, sy praat nie oor sulke goed met
haar ma nie. Bondel die laken in die sak waarin haar ma vir haar appels saamgegee het. Sy sal dit in die
vullishouer in die skool se badkamer weggooi.
Was dit nie vir Mabel nie, weet sy nie. Mabel was in standerd nege, by die groot meisies op die
boonste verdieping. Verbode plek vir laerskooldogters. As sy boontoe glip, pik hulle op Mabel. Hulle
pes dit dat sy altyd die beste huishoudkundepunte het, en die eerste netbalspan se senter is.
Sit ’n laag toiletpapier in haar ligblou skoolbroek. Toe die ontbytklok lui, wag sy vir Mabel by die
trap. Mabel hardloop op en kom terug met ’n tjoklitboks.
“Is binne-in. Sit die plastiekkant weg van jou lyf af,” fluister sy. “Vanmiddag in staptyd sal ek apteek
toe gaan en …”
“Ek sal etenstyd die geld vir jou gee.”
“M ´ý pa het vir m y ook geld gegee. Net soveel soos vir jou.”
Eendag het haar ma haar met ’n pluksel groenbone oorgestuur na Mama Thandeka toe. Was omtrent in
standerd twee, want sy en Mabel het op die bank onder die peperboom die groenbone sit en afhaar.
Beurte gemaak met haar nuwe Victorinox.
“Dis ’n mooi mes wat my pa vir my gebring het, nè?”
“Gertruida, het jy geweet dat jou pa ook my pa is?”
“Dit jok jy, Mabel. My pa is wit en jou ma is swart en …”
“Enige kleur man kan by enige kleur vrou ’n tjint maak. Kom laat ek jou iets wys.” Mabel is die huis in
en het met ’n papier teruggekom. “Is my geboortesertifikaat. Dáár,” en Mabel het met haar vingers gewys,
“staan geskrywe my pa is Abel Strydom. Moenie vir Mama sê ek het die papier vir jou gewys nie. As jy
sê, gaan ek vir jou ma sê jy speel onder jou broek in die boomhuis. Jy dink verniet ek sien jou nie …”
Wanneer sy die vuur aansteek, moet die tuinslang byderhand wees, sodat die vuur nie in die tuin in
hardloop nie. Mabel se hart sal breek.
“Kyk,” sê Mabel toe sy ná staptyd met die apteeksak by haar kamer aankom. “Bedags plak jy hierdies
aan jou pantie vas. Hierdies,” sy haal ’n klein pakkie uit, “moet jy in die nag in jou opdruk. Diep, maar
die toutjie moet uithang sodat …”
Asseblief, nie dít nie. “Nee, ek gaan nie.”
“Vaderland, Gertruida, wat as jy jou bed natpie en al dié goeters raak nat?”
“Ek gaan in elk geval dwarsdeur die opdrukding pie en …”
“Die pie kom by ’n ander gaatjie uit. Oor die naweek sal ek als mooi vir jou verduidelik. Doen net wat
ek vir jou sê om te doen.”
Die naweek het sy agter die sementdam gehurk en op haar hand gepie. Mabel was reg, sy het twee
gaatjies.
Vrydagmiddag, terwyl haar ma slaap, praat haar pa en ’n landbou-adviseur in die kantoor oor
kampheinings en tamatieplantjies. Mama Thandeka hang koshuiswasgoed op. Goeie kans om met Bamba
weg te glip kliphuis toe. Oorkant die rivier swenk sy oos; hou op die klipbanke om nie voetspore agter te
los nie.
By die bergpoel, ’n entjie van die kliphuis af, was sy haar.
Bak op ’n klip in die herfsson. Bamba lê by haar voete en kyk na haar. Al is sy kaal, is sy nie skaam
nie, want Bamba kyk anders as Abel. Sy wens haar tieties wil nooit groter word nie; dat al die hare aan
haar lyf sal ophou groei; dat die bloed nooit weer sal terugkom nie.
Sy dink nie haar pa weet van die bergpoel nie. Te onherbergsaam vir die beeste. Daar is plekke op
Kiepersolkloof waar nog nooit ’n mensevoet getrap het nie. Nie lank terug nie, het haar pa by die tennis
vertel van nuwe Boesmantekeninge wat hy ontdek het. By die fonteinkamp, in ’n grot waarvan hy nie eens
geweet het nie, en waarvan sy pa nooit gepraat het nie.
Hy sal nie haar kliphuis opspoor nie. In elk geval sal die digte turksvybome rondom die plek mense
daar weghou. Net sý weet hoe om sonder ’n krapmerk tussen die turksvye deur te kom. Breek gereeld
blare weg om buk-buk ’n looptonnel te skep.
Seker so in sub B was daar drama op Kiepersolkloof. Sy het die storie gehoor toe sy in die
ontbythoekie wegkruip. Alles het begin met ’n werker wat in Oupa Strydom se tyd skaap geslag het.
Begrawe die velle en binnegoed op plekke waar nooit ’n voet trap om beeste te soek nie. Verkoop die
vleis op die dorp. Oupa Strydom het die polisie laat kom. Hulle soek die dief. Bloedhonde. Soekspanne.
Fynkam tot op Bosfontein. Die dief is weg. Oupa Strydom sê die polisie moet maar los, want hy kan nie
heeldag tyd mors op dief soek nie. Hy moet kalwers speen en aartappels uithaal.
Oupa Strydom was lánkal dood, toe raak daar ’n bees weg. Sy hoor haar pa sê vir OuPieta hy moet sy
kossak pak en loop tot waar die aasvoëls draai aan die westekant van die taaiboskamp. Hy dink die bees
is dood, en hy wil seker wees. Toe OuPieta terugkom, sê hy dis nie ’n bees nie, dis ’n dooie mens met ’n
opgevrotte voet en onderbeen. Moet van ’n adder gepik gewees het en daar loop doodgaan het. Haar pa
klim self taaiboskamp toe. Wragtig, dis die skaapdief. Al die jare in Kiepersolkloof se berge weggekruip
en van veldkos gelewe. Glads ’n broek aan van dassievelle, toegewerk met jakkalssening.
As sy weer kliphuis toe kom, moet sy naaldwerkgoed saambring. Net vir ingeval.
Bietjie bloed aan die klip toe sy opstaan. Hier in die berg voel die bloed anders as by die koshuis.
Skoner. Sy weet nie hoe kan die koshuismeisies oor sulke goed praat nie. “Oumatjie”. “Siek wees”.
“Padda in ’n hangmat”. Sy het ’n renons in hulle praatjies.
Kort ná die skool begin het in standerd vier, is afgekondig die standerdvierdogters moet ná pouse
huishoudkundeklas toe gaan; seuns houtwerkklas toe. Die klinieksusters gaan met hulle praat. Toe almal
op die hoë huishoudkundestoeltjies sit, skakel die klinieksuster die truprojektor aan en sê hulle is
bymekaar as jongmeisies wat amper grootmeisies is. Daar is dinge van die lewe waaroor hulle gaan praat
sonder doekies omdraai.
Almal giggel, stamp mekaar met die elmboog oor die sketse op die transparante. Net sy en Andrea lag
nie. Andrea vee heeltyd sweet af. En sy skrik heeltyd.
Die suster sal nie jok nie. Is beendrukkies en tongsoene sonde? Skrik. Mens kan tog nie ’n baba kry by
jou pá nie? Skrik. Is “sperm” die regte woord vir “towersalf”? Skrik. Mág mens die badkamer en jou
kamer sluit? Skrik. Beteken bloed aan jou broekie jy kan ’n baba kry? Dan kan sy lankal babas kry. Skrik.
Weke lank het almal pouses gefluister. Wat vir húlle sensasie was, was vir haar ’n nagmerrie. Pouses
het sy by die vullisblikke gesit. Banger en banger geword.
Sy tap die waterkan vol. Op pad terug kliphuis toe loop sy by die haasnes langs. Leeg, sonder dat sy
die kleintjies kon groet.
In die warm donkermaannag sit sy en Bamba by die deuropening van die kliphuis en eet brood en
suikermielies. ’n Kriek skree skerp eennotig. Hoe haal ’n kriek asem? Hoekom vlieg vlermuise nie in iets
vas nie? Waar kom die bloed uit haar vandaan? Wat gaan sy maak as sy in die nag ’n tampon inhet, en
Abel …?
Haar kop dink om en om. Maar kom nêrens uit nie. Sy wil dink hoe sy die bloed vir haar ma gaan
wegsteek. Net Mabel hoef te weet. Sy rus haar rug teen die lou muurklip en soek ’n komeet. Mama
Thandeka sê Anthonie is ’n ster. Watter ster? Wat is binne-in ’n ster? Mister Williston moet haar help met
’n boek oor sterre. Die kreeep … kreeep van ’n kroonkiewiet maak Bamba onrustig.
As sy in ’n dier kan verander, wil sy ’n kroonkiewietkuiken wees. Die pa en ma help al twee om die
bruin eiers uit te broei, sommer in ’n nes wat hulle in die grond krap. Maar al het hulle ’n armmansnes,
laat hulle niemand naby die kuikens kom nie. Gaan te kere, duik uit die lug op die vyand af. Tot Bamba
bly weg van ’n kroonkiewietnes. As die afduikplan misluk, hou die kiewiet hom mank. Sleep sy vlerk;
probeer die vyand weglei.
Hoekom pas haar ouers haar nie op soos ’n kroonkiewietkuiken nie?
Dis onmoontlik om te dink. Daar is te veel brekende branders in haar kop. Bamba kom lê teen haar;
hulle raak op die rooigrasbed aan die slaap.
Saterdag brei sy klei en smeer die dakstokke. Die winter is naby; die kliphuis moet droog bly, want
daar is boeke en goed wat nie mag nat word nie.
Saterdagmiddag is die bloed weg en kan sy weer gemaklik loop. Huis toe, al wil sy nie; al weet sy self
nie hoekom sy elke keer teruggaan nie.
Sondag is Mama Thandeka se af dag.
“Maak vir ons aartappelslaai met mosterd, toe, Truia? Dan ry ons vygieboskamp toe en ek braai vir
ons wors.”
“As ek móét …” Sy is nie lus om naby hom te wees nie. Sy wens hy wil dronk word en in die vuur val.
Tog word dit ’n mooi middag onder die olienhout by die vygieboskamp. Hy maak vir haar appelsap
oop. Praat van olyfbome wat hy wil plant vir huisgebruik. Fransina wat moet kalf. Filters wat hy vir die
John Deere moet insit. Die groentetuin wat geploeg en bemes moet word. Pietertjie wat by ’n tandarts
moet kom oor vrot kiestande.
“Dis van jelliemannetjies.” Hy lag. “OuPieta sê hy kom anderdag in die kombuis en Pietertjie sukkel
om sy voet in die koffiebeker te kry, en hy sing van Jan Pierewiet wat sy koffie met sy groottoon roer.
Pietertjie se oudag is vir my ’n bekommernis …”
Die sonbesies skree. Die hadidas roep. Windjie in die olienhoutblare. Bamba jaag ’n muishond. Dis
lekker by haar pa.
“Wil Pa nie vir my ’n stuk grond gee waarop ek ’n turksvyboord kan plant nie?” Mooi vra. Nie dreig
of dwing nie. “Wéét Pa wat kan mens alles uit turksvye vervaardig? Ek sal die boord naweke en
vakansies in stand hou. Kom ons probeer dit en kyk …”
“Nee, dis te arbeidsintensief.”
“Sal Pa dan vir my ’n klein bobbejaantjie vang? Mens kan hulle baie truuks leer. Ag, toe?”
Donker gordyn wat oor sy oë trek. “Nee, ’n werfbobbejaan is die één ding wat ek nie wil hê nie. Ek
kan dit nie verdra as ’n dier vasgeketting is nie.” Hy gooi die vuur dood en begin oppak. Stroef. Hulle ry
woordeloos huis toe.
Sy gaan lê op haar bed met die atlas wat sy by Tannie Lyla gekry het. Om te kyk hoe groot is die
wêreld. Want eendag wil sy vir goed weggaan. Dalk bly sy in Groenland.
Of in die noorde van Rusland. Terwyl sy vir haar ’n dorp in Kanada uitsoek, draai die deurknop. Haar
maag ruk.
As sy nog nooit na doodgaan gesmag het nie, was dit daardie dag. Van pyn en vernedering. Want dit
was die middag waarop Abel die eerste maal sy natgelekte pinkie agter in haar opgedruk het.
Die volgende naweek het haar ma teruggekom uit Turkye.
Met die rooi-en-goue muurmat.
Sy rem aan die mat tot dit loskom uit die spykerplankie. Toe die gang leeg is, kan sy die res van die
kombuisgoed uitdra. Tot haar liggaam tam is.
Sy borsel tande; vat kussings en komberse. Ligte afskakel. Voordeur toetrek. Baan ’n pad deur die
chaos aan die voet van die trap, verby Ouma Strydom se spieëlkas waar die eierplas lê. Waenhuis
toetrek. Opkrul in die bakkie. Kussings onder haar kop intrek.
Nagsê vir Frieda; die kolganse en paddas.
Vir Mama Thandeka en Mabel.
En vir Braham.
*
Dis nagtyd. Die slaap is weg uit my oumenslyf. Ek vra vir iNkosi: Banjani abantwana? Hoe gaan dit met
die tjinners?
My halfblinde oë kyk deur die gordynskrefie om te sien of ek ’n ster in die donker hemel gewaar. ’n
Ster wat sê sy naam is Abel. As ek my oë toemaak, sien ek agter in my oogkasse duisende sterre, soos toe
ek en Samuel ons aandkos in die driebeenpot by die buitevuur gekook het. Dan praat ons oor my mense en
oor sy mense. En hoedat ons op Kiepersolkloof beland het, so ver van onse mense af. Hoedat dit gekom
het dat ons nooit teruggegaan het om te kyk hoe dit met onse mense gaan nie.
“Seker oordat ons in vrede hier bly. En jy sal mos nooit weggaan van Abeltjie af nie. Hy’s jou
aanneemtjint, Thandeka.”
Ons sing vir mekaar wyl die geelmaan oor die berg kom. Ek sing die groot lied van my mense.
Nkosi
sikelel’ iAfrika; Maluphakanyisw’ uphondo lwayo; Yizwa imithandazo yethu; Nkosi sikelela …
Dan sê
hy dis mooi, maar hy verstaan nie wat ek sing nie. Ek sê onse groot lied vra die Here moet ons hoor bid
en onse land seën. Hy moet help dat die oorlog en baklei ophou.
Samuel sing die groot lied van sy mense en die wit mense.
Uit die blou van onse hemel, uit die diepte
van ons see … Deur ons vér-verlate vlaktes met die kreun van ossewa. Dan sê ek vir hom ons het nie ’n
wa en osse nie, maar ons het twee donkies en ’n stewige donkiekar. Ons lag en suie die dunsous uit die