Thula-thula (afr) (23 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

met pronkertjies.

In haar hart was sy tóg bly die kliphuis behoort steeds net aan haar.

Die volgende September het Tannie Lyla vir haar ’n klein afdruk van die Mona Lisa gebring en ’n boek

oor Leonardo da Vinci. Dis kliphuis toe. Sy het vir Tannie Lyla gesê sy bêre dit iewers in die berg.

Bergkind, het Tannie Lyla gesê, mooie bergkind …

Sy was twee-en-twintig toe Tannie Lyla die laaste maal kom kuier het; drie jaar ná die kind se

geboorte. Op ’n windstil dag teen sonsak is sy en Tannie Lyla rivier toe. Hulle het na die aandwolke

gekyk. Oranje. Pienkpers. Loodgrys.

“Jy is pragtig, Gertruida, jy’t soveel potensiaal. Jy moet vergeet van die baba.”

“Nee, Tannie Lyla, ek sal dit nooit vergeet nie.”

“Maar jy moet dit agter jou sit.”

“Hoe sit mens so iets agter jou?”

“Deur vorentoe te leef. Gertruida, ek het geen reg om jou kop te swaai nie, maar ek is oortuig jy moet

radikaal breek met Kiepersolkloof. Met jou pa en ma ook, as dit nodig is. Hiér gaan jy ’n gevangene bly

tot in lengte van dae. Kom weg, maak nie saak hoe en waarheen nie. Ek sal jou met geld help as jy wil

universiteit toe gaan, of tot jy op jou voete is.”

“My matriekvakke gee my nie universiteitstoelating nie.”

“Doen ’n oorbruggingsjaar. Doen enigiets. Begin net op jou eie voete staan.”

Donkergrys aandwolke. Die hadidas skree haar-de-daar … haar-de-daar … “Ek sou hulle in die tronk

wou sien krepeer. Ek wil hulle in hulle slaap vrek skiet.”

“Dit verstaan ek met my hele hart. Maar vervolging en openbaarmaking is nie altyd die regte opsie nie,

Gertruida. Moord is beslis nie, want dan ly jy lewenslank dubbeld.”

“Tannie Lyla, ek háát hulle.”

“Niemand, selfs nie God nie, kan jou daarvoor verkwalik nie. Jy’s ’n slagoffer van jou pa, ook van jou

ma, maar jy kan ’n slagoffer van jouself wees. Soms is mens so gewoond aan die marteling en

vernedering dat jy dink dis normaal. Daar lê ’n lewe buitekant Kiepersolkloof. Moenie jouself

verstrengel in ’n slagoffermentaliteit nie, Gertruida, dis emosioneel dodelik gevaarlik.”

Die aandlug lyk soos deurskynende swart glas. Die paddas raas.

“Kom net weg, Gertruida, assebliéf?”

“As ek weggaan, gaan ek ook weg van ’n man wat ek liefhet.”

“Hy sal agter jou aankom as hy jou ook liefhet. Ek wil vir jou ’n storie vertel wat jy moet memoriseer.

As jy moedeloos word en selfmoordgedagtes het, vertel hierdie storie vir jouself. Op ’n broodnodige dag

mag dit jou die insig teruggee wat jy verloor het, of die insig laat bekom wat van jou geroof is.”

Sy hou van stories.

Vroeg in die 1960’s het wetenskaplikes ’n eksperiment gedoen om te bepaal hoe werk die vluginstink

van die mens. Hulle het ’n hond in ’n groot hok gesit waarvan die regterkant bedraad was om die hond ’n

elektriese skok te gee as hy daar sou loop of lê. Die hond het gou geleer, en net aan die linkerkant van die

hok beweeg.

Toe verander hulle die bedrading, sodat die linkerkant van die hok die skokke gee, en hulle maak die

regterkant skokvry. Die hond het gou aangepas en net in die regterkant van die hok beweeg.

“Kondisionering, noem mens dit,” het Tannie Lyla gesê en haar dikgeplooide, bruin linneromp om haar

skene gedraai. “Dit kom daarop neer dat die mens van nature aanpas en ineenvloei met direkte gebeure

rondom hom. As iemand water in jou gesig spat, koes jy en knyp jou oë toe, omdat dit ’n natuurlike

reaksie is op ’n onnatuurlike proses. Maar as iemand uur na uur water in jou oë spat, gaan jy later ophou

koes. Jy gaan jou oë vinnig knip, die water uitvee, en aangaan. Die skok en koue en belemmering gaan jou

minder en minder affekteer. Wag, ek dwaal af …”

Vervolgens het die wetenskaplikes die ganse hokvloer bedraad, sodat die hond ’n skok kry waar hy

ook al lê of staan. Die hond was verward en angstig, maar toe hy agterkom hy is nêrens veilig nie, het hy

op die hokvloer gaan lê en elke skok willoos en as onontkombaar aanvaar. Hy het opgegee om sy

teenstanders te probeer uitoorlê.

Maar die eksperiment was nog nie verby nie. Die wetenskaplikes het die deur van die hok wawyd

oopgemaak, en verwag dat die hond onmiddellik sou uitstorm en wegkom van die pynlike skokke. Tot

hulle verstomming het die hond egter bly lê. Afgestomp teen pyn en skok. Die hond se vluginstinkte was

beskadig; hy het sy lot aanvaar as die alfa en die omega van sy bestaan.

“Moenie die oop deur miskyk nie, Gertruida. Moenie net gaan lê nie. Hoe langer jy lê, hoe meer

gewoond raak jy aan die impak van die skokke. Later is ’n lewe van pyn en hulpeloosheid jou lot.

Moenie, Gertruida, moenie … Baklei. Spoeg. Byt. Loop weg. Laat sit elke week ’n nuwe slot aan jou

kamerdeur. Hou pepersproei onder jou kussing. Koop ’n elektriese porstok en skok hom uit sy verstand

uit. Dóén iets, Gertruida …”

Die dag toe sy ry, was daar ’n verwesenheid oor Tannie Lyla. Spokerig donker. Benerige gesig; in die

twee weke op Kiepersolkloof het sy nóg maerder geword. Op pad motor toe het Tannie Lyla ’n ligpers

Michaelmas daisy gepluk en vir haar gegee. Dit staan vir vaarwel of vir nagedagtenis, het sy gesê. Droog

dit in een van jou woordeboeke, dan sal jy altyd iets van my by jou hê.

Ry. Wuif deur die motorvenster. Stof wat opwarrel en weer gaan lê.

Drie maande later, op Oukersdag, het Tannie Lyla haarself vergas in haar garage in Oos-Londen.

Kiepersolkloof was stilgeskok. Verbysterd het sy na die Michaelmas daisy in haar tesourus gekyk en

geweet Tannie Lyla het September reeds gegroet.

Die beeld van Tannie Lyla wat dood in die motor sit, het haar genadeloos agtervolg. Was haar kop

opgeswel? Was haar oë oop, of toe? Is dit waar dat mens se blaas vanself leegloop as jy sterf? Hoe kry

die lykbesorgers ’n liggaam wat in ’n sittende posisie verstyf het, weer reguit?

Sy het by haar ma op die bed gaan lê. “Hoekom het sy dit gedoen, Ma?”

“Ek wou nooit met jou daaroor praat nie, Gertruida, maar Tannie Lyla het twee buite-egtelike dogters

gehad wat erg gestrem was. Hulle was in ’n tehuis. Die jongste een is vroeg dood, maar die ander een is

begin Desember dood. Sy was al diep in die dertig. Tannie Lyla het lankal ’n doodswens gehad, maar sy

wou nie haar gestremde kind moederloos agterlaat nie.”

“Maar, Ma, Tannie Lyla was net twee-en-vyftig, soos Ma. Hoe oud was sy dan toe sy ’n kind …?”

“Veertien. Loop nou, ek wil nooit weer hieroor praat nie; ek wil nou slaap.”

Abel en Susarah is alleen Oos-Londen toe vir die roudiens. Sy wou by die huis bly en by die rivier

groet met ’n boodskap in die sand. Iets ín haar was te gebroke om sinne uit te dink.
Gedigte. Uitgeteer.

Graterig. Raai. Gedagte. Agteruitdraai. Getuie. Tragedie.

Sy het op haar maag omgerol en gehuil.

’n Aura van mistiek was verby.

’n Week later is sy poskantoor toe en daar was ’n brief in die posbus, vir haar. Blydskap. Sy kry nooit

briewe nie. In die langwerpige koevert, die adres op ’n plakker getik, was ’n brief van Tannie Lyla.

Mooie, mooie bergkind Omdat ek altyd die moed gekort het om reguit vir jou te sê, stuur ek vir jou

Anne Sexton se gedig, “The Frog Prince”. Jy is slim, bergkind, jy sal verstaan. Onthou altyd ek en jou

ma was tweelingsusters in dieselfde huis; dat ons álles gedeel het en op ’n droewe wyse

onlosmaakbaar aan mekaar vasgeheg is. Ek los al my bates in my testament vir jou. Maar jou ma sal

vruggebruik hê tot sy sterf. Ek doen dit só, want daar mag ’n dag kom waarop sy ’n huis en geld mag

nodig hê. Onder jou ma se bed is haar bruin skoolkoffer uit haar kinderdae. Jy moet die sleutel soek,

sodat jy kan weet wat daarin is. Dankie vir die kosbare ure by die rivier. Pas jouself en jou berg mooi

op. Moet nooit ophou baklei nie. Moenie te lank wag soos ek nie. Moenie opgee soos ek nie.

Deernis. Tannie Lyla.

Dit was die storie van die paddaprins, verdig tot aangrypende beelde en simboliek. Sy het die vier

gedigbladsye weer en weer gelees. Totdat sekere frases in haar kop gestol het.

Frau Doktor

Mama Brundig,

take out your contacts,

remove your wig …

Frogs arrive

With an ugly fury.

You are my judge.

You are my jury.

My guilts are what

we catalogue.

I’ll take a knife

and chop up frog.

Frog has not nerves.

Frog is as old as a cockroach.

Frog is my father’s genitals.

Frog is a malformed doorknob …

At the feel of frog

the touch-me-nots explode

like electric slugs.

Slime will have him.

Slime has made him a house.

Mr Poison

is at my bed.

He wants my sausage.

He wants my bread.

Mama Brundig,

he wants my beer.

He wants my Christ

for a souvenir.

Frog has boil disease

and a bellyful of parasites.

He says: Kiss me. Kiss me.

And the ground soils itself …

I took the moon, she said,

between my teeth

and now it is gone

and I am lost forever.

A thief had robbed by day.

Ineens het vele van die gebeure uit die tyd toe sy vir die baba by Tannie Lyla gewag het, na haar

teruggekom. Die sielkundige. Tannie Lyla se vaardige slimheid met die hantering van alles. Vrywillige

diens wat sy Maandae en Woensdae by ’n tehuis vir gestremdes gedoen het. Om naby háár skandekind te

wees.

Iets in haar het volkome begryp waarom Tannie Lyla selfmoord gepleeg het.

Tweelingdogters. Lyla en Susarah. Dis tog onmoontlik dat Susarah ook …?

Dis soos om in ’n put te val en nooit die bodem te tref nie.

Soms is die maklikste uitweg om van die waarheid te ontsnap, om weg te kyk daarvan.

Sy wóú met haar ma praat, maar sy kon nie. Want in plaas daarvan om erbarming met Susarah te hê,

met haar má, het sy haar nog meer versmaai. As haar ma self deur die hel van ’n nagruiter is, hoekom laat

sy toe dat haar kind ook daardeur gesleep word?

Tog kon sy nie van die volle waarheid ontsnap nie. Want in die baie hartseer ure wat sy in daardie tyd

by die rivier deurgebring het, het die sielkundige se woorde tydens die laaste sessie tot malwordens toe

deur haar kop gespeel.

“Gertruida, wat ook al vorentoe in jou lewe gebeur, ek wil hê jy moet onthou dat daar iewers in jou ’n

klein, bang dogtertjie woon. jy moet haar voortdurend gerusstel. Hou haar vas, koester haar. Verseker

haar sy is onskuldig; dat sy nie die spelleier was nie, maar ’n willose marionet in die hande van iemand

wat haar held was.”

Die sooibrand het in haar opgekook, haar voete was gepof. “Ek haat my pa met elke vesel in my. Die

bliksemse pedofiel.”

“Hy’s nie ’n pedofiel nie, Gertruida. Pedofiel is ’n woord wat in die volksmond gebruik word vir

iemand wat met kinders lol. Maar ’n pedofiel lol met meer as een kind gelyktydig. Hy soek altyd plekke

op waar kinders is. As jou pa ’n pedofiel was, sou hy waarskynlik ’n Sondagskoolonderwyser wou wees,

of tennisdae en bergklimnaweke op die plaas reël vir kinders. Hy sou jou aangemoedig het om maatjies

huis toe te bring …”

“Wát is hy dan?”

“’n Bloedskendige vader.”

“En ek is ’n bloedskendige dogter?”

“Nee, jy is ’n slagoffer. Onthou ook, Gertruida,” en die sielkundige het ’n glas water na haar uitgehou,

“dat daar in jou pa ’n klein, bang seuntjie woon.”

Sy wou stik daarvan. “Ek gee nie ’n flenter daarvoor om nie. Ek wens eerder hy kry kanker en vrek

stadig.”

“Jou woede is te verstane. Maar ek verseker jou, hoe min jy dit ook al wil hoor, dat jou pa ’n

verwarde en séér man is wie se emosionele wêreld in vele opsigte dié van ’n magtelose kind gebly het.

Daar is niks onder die son waarmee sy wandade regverdig kan word nie, maar jy moet probéér om tot in

die siel van die klein, bang seuntjie te kyk. Dit mag jou redding wees, en dalk mag dit sy redding wees.”

Sy het nie tóé besef die sielkundige weet waarskynlik, deur middel van Tannie Lyla se terapie, dat

haar ma ook onderworpe was aan jare van torment nie.

Maar daar langs die rivier, terwyl die kolganse rasper en die vinke kwetter en die gedig in haar kop

draai en draai, het sy bly wonder oor die bang dogtertjie wat in Susarah woon. Was sy ook angsbevange

vir ’n likkewaan en ’n draaiende deurknop? Genoodsaak om te oorleef in ’n niemandsland waar sy nooit

haar eie grensdrade kon span nie.

Hóé hard sy ook al probeer het, kon sy nêrens in haar hart vir Abel óf Susarah ’n sweempie deernis

kry nie. Ook nie vir die bang dogtertjie in haarself nie. Maar tog het sy vasgeklou aan die sielkundige se

afskeidswoorde.

“Soek vir jou ’n terapeut, Gertruida, iemand wat jy wíl vertrou. Hou aan en aan met praat. Want

eendag sal die laaste fase van heling aanbreek, en dis die tyd wanneer die óú seer nie meer regtig saak

maak nie. Hou net aan. En aan.”

Ná omtrent ’n maand het sy die gedig uit haar kop geken. Gaan haal haar skooltas se sleuteltjie in die

kliphuis. Sluit die brief weg. Bêre die sleuteltjie weer in die koekblik. Rou traanloos teen die berg se lyf

Other books

The Wyndham Legacy by Catherine Coulter
Taught to Serve by Jaye Peaches
Time to Control by Marie Pinkerton
The Chase of the Golden Plate by Jacques Futrelle
Honeymoon by James Patterson, Howard Roughan
Julia Justiss by The Courtesan