Authors: Annelie Botes
nag rond?”
“Leen vir my ’n trui en ’n sweetpakbroek, Mabel? Ek wil kliphuis toe gaan.”
“Jirretjie, Gertruida, dis middernag … en my klere is te klein vir jou …”
“Dis niks. Mabel, as my pa môre veld toe ry, moet jy vir my ’n koffer pak vir die naweek. Steek dit
weg tussen die grootblaardrakebome onder die sederboom. Ek sal dit môre nag kom haal.”
“En dan, Gertruida …?”
“My pa het my motorsleutels weggesteek. Ek gaan in die nag dorp toe loop, van Bosfontein se kant af,
sodat ek teen dagbreek by Braham se huis is. Bring my tekkies ook, asseblief. En hou my selfoon by jou
…”
“Kom voordeur toe. Ek gaan Mama se kamerdeur toe-trek, dan sluit ek vir jou oop.”
Sy staan by die lou vuur. Mabel bring haar rekkerigste klere. Pak roosterkoeke, frikkadelle en ’n blik
kerrievis in ’n sak. Twee lemoene. Kraakbeskuitjies.
“Hier’s ’n paar van Mama se uitgetrapte slippers. Ek het dit gister gewas en by die stoof gesit vir
droog word. Dis klam, maar jy kan nie kaalvoet kliphuis toe loop in die nag nie.”
Kort voor middernag die volgende nag sluip sy werf toe en vat die koffer. Mabel tree soos ’n skim
agter die sederboom uit. “Jou swart sweetpak en jou tekkies is heel bo in die koffer. Trek jou aan. Ons
moet teen die rivier af hou, tot duskant Bosfontein se afdraai. Jou pa sit jou en inwag by die
laagwaterbruggie.”
Hulle dra die koffer beurt-beurt deur die digte plantegroei op die rivierwal.
“Gertruida,” sê Mabel toe hulle naby Bosfontein se afdraai is, “in die binnesakkie van die koffer is ’n
koevert met naweekgeld. Jou ma stuur dit. En sy’t my gevra om vir jou te sê jou pa lê jou voor by …”
“Mabel, dit liég jy!”
“Kyk self, jou naam is in haar handskrif op die koevert.”
In die lig van die amperse volmaan loop sy dorp toe. Toe die kerkhorlosie vyfuur slaan, maak sy die
tuinhekkie by Braham se huis oop.
“Trek solank jou motor in die garage,” sê hy en sit ’n beker swart koffie op die stoeptafel neer. “Ek
sluit net gou.”
“My motor is nie hier nie. Ek het geloop van Kiepersolkloof af.”
“Gertruida, jy’s nie ernstig nie …”
“Ek is. Moenie vrae vra nie. Weet net ek het na jóú toe geloop.”
Dis vreemd om vir so lank só naby iemand te wees, ingehok in die motor. Die son kom op. Die laaste
twee dae voel soos ’n droom. Hy vra sy moet koffie skink. Knikkie in die pad. Die koffie mors op haar
sweetpakbroek.
“Dammit, sies!”
“Daar’s nat lappies in die paneelkassie.” Hy ry stadiger, vat die fleskoppie by haar. “Dis niks,
Gertruida …”
“Ek verpes dit as ek uit lompheid op my mors!”
Hy stop by ’n ry peperbome, sodat sy haar kan skoon kry. Hulle sit by die vuil sementtafel; hy drink sy
koffie. “Dit was eintlik mooi toe jy op jou mors,” sê hy.
“Hoe kan jy só sê? Ek het onnodig heftig gereageer en …”
“Juis. Ek sien so min emosionele reaksie by jou, Gertruida. Die kere dat jy wel emosioneel raak,
verkyk ek my aan jou.” Sy kan nie vir hom sê om emosieloos en immuun te wees is Doringrosie se
ammunisie vir oorlewing nie. “Trou met my, Gertruida?”
Die wind waai die peperboomtakke rond. Sy is naar geskrik. “Ek wil nooit trou nie, Braham. Met
niemand nie.”
“Ek is lief vir jou, Gertruida. Ek is dertig, jy’s vier-en-twintig …”
“Los dit, Braham, ek is nie troumateriaal nie.”
“Sê my dan, Gertruida, of jy my ook liefhet. Ek móét dit weet.”
Wind in haar gesig. Dynserige berge in die verte. Hoog in die lug draai ’n valk. “Ja, Braham, ek hét
jou lief. As ek kon, sou ek nóú met jou getrou het. Maar ek kan nie.”
“Hoekom nie, Gertruida, hóékom nie?”
Lek haar vinger, vryf ’n vetkol op die sementblad. Doolhof in haar kop. Naaktheid. Vrot visreuk. Anale
verrekking. Vibrerende speelgoed. Beendrukkies. Selfwalging ná ’n geforseerde klimaks. Nimmer, nooit.
“Omdat … ek … nog daaroor moet dink …”
“Mag ek jou vashou en soen? In die vier jaar ná jy uit matriek is, het ek jou nog nooit vasgehou of
gesoen nie. Ek wíl, maar jy …”
“Ek soen nie mense nie, nooit.”
“Sal jy mý soen …?” Hy kom sit by haar op die aambeeldvormige sementbankie. “Ja, ek sal, toemond.
As jy my eendag Avignon toe sal neem.”
“Ek belowe ek sal.”
Warm asem in haar gesig. Braham se asem. Sagte, droë lippe. Braham se lippe. Skok op skok deur
haar onderlyf. Toe begin sy hartverskeurend teenaan sy gesig huil.
“Gertruida, Gertruida … Hoekom huil jy?”
Knip die skoolkoffertjie toe. Sy wil nie verder grawe of Tannie Lyla se briewe lees nie. Hóékom het
Susarah hierdie goed gebêre? Wié was Susarah? Is sy met ’n verslapte kringspier begrawe? Het sy hande
vol kopseerpille gedrink om haar onthou-pyn stil te kry?
Dra die koffertjie potystertafel toe. Sit dit langs die blou vergeet-my-nietjies. Loop die huis in en begin
die gastetoilet leegdra. Lusteloos, want sy kry nie die ontstellende beeld van die dogtertjie-vrou op die
meelkas weggevee nie.
*
Ek sit agter brekfistyd bietjie in die sonnetjie voor die huis. Mabel het my vroeg wakker gemaak en gesê
ek moet aantrek. Sy wil by my inhaak sodat ons om die huis kan loop vir die styfte in my kniekoppe.
Wanneer die son warmer is, wil sy my hare was en vleg.
“Ek gaan Mama se stoel uitdra, dat die son op Mama se vel kom.”
Nou sit ek hier op my wiegstoel wat Abel en Missus Susarah vir my gekoop het toe ek sewentig jare
geword het. Ek raak vaak as die stoel my wieg, vorentoe en agtertoe, nes die rottang-cot waarin Mabel
gelê het toe sy ’n bybietjie was.
Party dae as Abel deurkomhekkie langes gekom het met ’n sakkie ertappels oor sy skouer, of ’n bak
druiwe of ’n murgpampoen, het hy ’n binnestoel gebring en hier by my kom sit. Dan sit hy sy voet op die
opstaanpootjie van my wiegstoel en roer my liggietjies. Praat sommer oor ’n Bonsmara wat gekalf het;
oor die kontrakmense wat twee dae lank gaan kom help sodat die kallers gespeen kom. Mens het hande
nodig vir speentyd, want die koeie raak mal. Of hy sê wat die umfundisi in die kerk gepreek het. Van
Missus Magriet wat somergriep in haar maag het. Van die bobbejane wat al die granate afgesteel het.
Hy’t baie kere hier kom sit. Nooit gevergeet hoe ek sy boude samboksalf gesmeer het as die ouman
hom met die belt slaan dat die strepe lê nie. Ek het hom altyddeur ’n hand vol dadels gegee en gesê hy
moet onder die peperboom op sy maag loop lê dat die salf kan intrek.
Ons praat nooit oor onse dag van sonde nie.
Ek is moeg, laastere nag tot waffer tyd sterre gesoek. Eers voordag toe ek my kop onder die komberse
insit, het die slaap my gevat. Mabel wil vandag die hokhaantjie in die pot sit; en rosyntjierys en
bruinsous-ertappels kook. Gemmerpoeding en vla. Komberse uithang. Matte skud. Ek weet nie waar kry
sy krag vir als nie, haar hart moet ook maar kramp oor haar wit mama. So te sê onder Missus Susarah se
voete grootgeraak.
Ons het ’n mooie huis, ek en Mabel. Binnewater. Ligte. My jiglyf lê op ’n sponsmatras, onder ’n
sawwe duvet. Missus Susarah het gordyne gemaak met agterkante sodat die son nie vroeg smôrens die
huis lig maak nie. Uitgeteëlde badkamer met ’n stort; nou hoef ek nie met my kranklike lyf in en uit ’n
sinkbad te sukkel nie.
Aan geld skort ons nie. Elkere jaar skuif Abel die eerste Bonsmara-versie eenkant vir die kerk. Dan
kom Missus Susarah en Gertruida se beurt, dan ek en Mabel en OuPieta. Tot Pietertjie kry so elkere derde
jaar ’n versie. Seker oor hy doerie jare Missus Susarah se tuinhand was, en oordat hy die een was wat
lank terug se tyd, toe Anthonie in die mis geverdwaal het, die een was wat hom gekry het waar hy in die
dassieskeur lê en slaap het.
Agter vendusietyd kom tel Abel die beesgeld uit by onse kombuistafel. Ons drink tee uit my blou
Krismiskoppies. Hy eet askoek met swart nastergalkonfyt en bokbotter. Beduie hoeveel hy vir my en
Mabel by die bank bêre. Elkere ses maande kry ons die kuikens wat by die bank broei. Dan vat Missus
Susarah ons grootdorp toe vir huisgoed. Tot ’n haardroër en elektriese krullers en ’n selfoon vir Mabel.
Tik vir Missus Magriet ’n koslys, sodat haar goete regstaan as sy by die winkel aankom. Neukery is dat
die selfoon nie altyds werk nie. Daar moet ’n hoër toring opgesit kom, sê Mabel.
Mabel maak verniet of sy so ’n verpesting in Abel het. Al die goeters wat ons koop uit verskalf-geld,
is vir haar lekker. Is oordat sy haar eie verskalf-geld het dat sy nie man vat en tjinners kry nie. Partykeers
vat ’n vrou ’n man oordat sy nie gelerendheid of geld het nie, en uit sy hand móét leef. Slaan hy haar
oogbanke stukkend of druk haar hand in die vuur het sy nêrenster om te gaan nie. Maak nie saak of sy wit
of swart of bruin of geel is nie, dan staan sy maar stil om geklap te word.
Mabel sal nie stilstaan nie. Tussen my en Missus Susarah en Missus Magriet het ons gesôre dat Mabel
klas op haar het. Haar kopwysies sing mooi.
Soos ek hier op my wiegstoel sit en vaak raak, roep ek na elkere papa en mama in die wêreld. Hulle
geeste moet hiernatoe vlieg en rondom my voete sit, met hulle ore na my toe gedraai. Sodat hulle kan hoor
wat ek dink. Ek wil vir hulle sê: Abazali, hlalani phantsi, phulaphulani. Mamas en papas, sit asseblief,
luister mooi. Sodat julle nie slegte wysies in julle tjinners se koppe maak nie, en dan eendag in julle
hande snik oor allester wat afdraand rol nie.
Eendag, jare terug, kom Missus Magriet oor van Bosfontein af op skoolbesoek. Gesê sy gaan van toe af
elkere jaar by elkere huis aangaan. Sy wil sien waar bly die tjinners wat by haar skool loop. Waar slaap
hulle, of hulle by ’n tafel sit en eet. Of daar ’n lewwetrie met lewwetriepapier is, en of die tjinners in die
bossies moet hurk. Of daar ’n Bybel in die huis is. Of die werf gevee is; of die hond vet is. Sy sê tjinners
word nie eenderster groot nie, en sy wil verstaan hoe werk elkere tjint se kop, sodat sy met hom ’n taal
kan praat wat hy verstaan. Só gee Missus Susarah my die middag af en Missus Magriet kom daardie dag
die eerste keer hier by onse huis.
“Goeiste, Thandeka,” sê sy, “maar jy’t ’n mooie huis!”
Klein soos sy daardie tyd is, staan Mabel voor die gasstoof en bak plaatkoekies, soos Missus Susarah
haar leer in Kiepersolkloof se kombuis. Ek sien hoe raak Mabel se rug reguit oor wat Missus Magriet sê.
Draai sommer om en loop maak die yskas oop en toe, haal niks uit nie. Net dat Missus Magriet nie die
yskas moet miskyk nie.
Toe Mabel onse teeskinkbord neersit, kompleet met ’n lappie, die koppies se ore na dieselfde kant toe
gedraai, sien ek ’n mooie lig in Missus Magriet se oë. “Gaan speel by Gertruida in die boomhuis,” sê sy
vir Mabel, “ek en jou ma wil alleen gesels.”
Sal Mabel nie wragtig haar sonsambreeltjie oopslaan en maak asof die son nie op haar kop mag skyn
nie? Hang haar pienk handsak oor haar arm, sit die sonbril op wat sy Krismistyd by Gertruida gekry het.
Trek glads haar insteeksandals aan.
“Jy sien, Thandeka,” en Missus Magriet beduie na die potjie wit verbenas wat Mabel op die
teeskinkbord gesit het. “Dís hoekom ek nie wil hê Mabel moet ‘flyt’ en ‘ryt’ en ‘snyt’ sê nie. Dis nie dat
ek van Mabel iets wil maak wat sy nié is nie. Ek sien mos sy gaan dit ver bring.”
“Is waar,” sê ek.
“Dit sit in haar bloed, Thandeka. Mens kan iemand styl aanleer, maar jy kan dit nie in sy bloed inspuit
nie.”
“Is waar,” en ek maak of ek nie skrik nie.
“Sy móét matriek maak, Thandeka. Ek is oortuig Samuel sou dit ook só wou hê vir sy kind. Abel sál
haar bystaan vir universiteit. Dink vooruit, Thandeka, dink ver vooruit …”
Toe Missus Magriet weg is, kyk ek na die potjie verbenas; dink oor wat Mabel gesê het toe sy met die
bossie blomme huis toe kom. “Mama, Mevrou Susarah sê wit verbenas beteken: ‘Bid vir my’.”
Ek maak my oë net daar by die tafel toe en sê dankie oor al die ma’s wat Mabel het. Missus Magriet
wat haar gelerendheid besôre. Missus Susarah wat haar al die fyntjiesgoeters wys. Ek wat waghou oor
haar gees. En so, met toegeknypte oë, onthou ek ’n sterre-aand saam met Samuel om die vuur, toe Mabel
se naeltjie nog vasgesit het.
Samuel was sleg omgemoerd oor wat agter sy rug aangegaan het wyl hy in die berge loop en beeste soek.
Wil sommer die huisgoed oppak en pad vat met onse donkiekar. Maar Samuel was nie ’n man met ’n
kliphart nie. In sy binnekant moes hy gewis het elkere vrou wil graag ’n tjint hê, al het sy dit nooit gesê
nie.
Die nag toe Mabel in die dorpshospitaal gebore kom, gee die suster die amperse wit bondeltjie in die
wit kombersie vir hom om vas te hou.
Hy vat haar. Hy huil. Toemaar, Thandeka, sê hy, nou’s dit onse tjint.
Ons sit een aand by die vuur. Mabel slaap in die rottangcot wat Missus Susarah vir haar gekoop het, en
met wit net oorgetrek het. Aparte net om bo-oor te gooi, sodat die vlieë haar nie pla nie.
Thandeka, sê Samuel, jy moet nóóit onse tjint abba nie.
Nou’s hy beneuk in sy kop, dink ek, hoe kan ek nié my tjint op my rug vasbind nie? Sy moet my longe
hoor as ek sing; sy moet my vel ruik en my warmte voel.
Dra haar op jou heup, sê hy. Ek sal ’n Bonsmara verkoop en sôre dat sy ’n stootkar kry. En ’n drasak
wat voor jou maag hang, vir tye as jy al twee jou hande nodig het. As sy die dag kan loop, vat jy aan haar
hand as julle iewerster heen loop.
Samuel, sê ek, het jy kêns geraak? Van waffer tyd af mag ’n mama …?
Daardie aand ruk Samuel my uit my geloof uit. Want wat hy sê, kom lê vir die kale waarheid in my
kop, al wil ek stry tot annerweek.
Sy’s klein, sê hy, sy’s gebore sonder kennis, sy’t baie om te leer. En sy moet met haar oë leer. As jy