Thula-thula (afr) (28 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

kaneelsuikerpannekoek koop.

Laat gly die inhoud uit op die vensterbank. Die boom van die skulp is bykans stofloos, die pampoentjies

ook. Hoekom het Susarah die botteltjie al die jare bewaar? Wat het deur haar gedagtes gegaan wanneer sy

’n tyd van sandkastele en seevoëlspoortjies herroep?

Hulle bou ’n sandkasteel op Hermanus se strand. Sy en haar ma en Anthonie. Versier met pers

slakskulpe en seewiertakkies en seepampoentjies wat hulle by die rotspoele optel en in ’n rooi emmertjie

aandra.

Sy dra ’n geel swembroek wat pas by die pynappelkoeldrank in die plastiekglasies, en by die geel

wafelbeskuitjies.

Haar ma se swembroek is wit, soos seeskuim. Hulle drie hardloop oor die stywe sand om nog

pampoentjies op te tel om die ingang van die kasteel te versier. Haar ma hardloop vinnig. Haar krulhare

wip en haar bene is bruin. Dit is die mooiste ma in die wêreld.

Sy speel sy mag nie op die seevoëls se spoortjies trap nie, want sy wil nie die mooi patroontjies

stukkend trap nie. Toe raak sy agter by haar ma en Anthonie.

Kom! roep haar ma en staan in die vlak skuim vir haar en wag.

Haar pa is nie daar nie. Hy is by Hermanus se prokureurs oor Oupa Strydom se testament. Prokureurs

is mense wat kyk dat Oupa Strydom se geld en al sy goed regverdig tussen sy drie seuns verdeel word.

Haar ma sê Oupa Strydom het nog twee seuns. Hulle is haar pa se broers. Maar hulle bly te ver om te kom

kuier. ’n Testament is die brief waarin Oupa Strydom sê wie moet wat kry. Mens kan nie goed soos

valstande en ’n horlosie en ’n jig-armband opsny en vir elkeen ’n stukkie gee nie, sê haar ma. Daarom kry

een die valstande, die ander een kry die horlosie, die ander een kry die jig-armband.

Sy wil niks van Oupa Strydom hê nie, want sy raak bang as haar pa en ma baklei oor Oupa Strydom.

Sy weet nie of sy dit gedroom het nie, maar eenkeer het Oupa Strydom op Kiepersolkloof kom kuier. Hy

het kruisbande gedra en oopmond gekou. Snags op en af in die gang geloop en met sy kierie getik op die

plankvloer. Hy het in ’n snaakse taal gebid aan die tafel, en sy moes sy knopperige hand vashou. Sy het

haar verbeel dis ’n hoenderpoot, en as hy amen sê, druk sy haar vinger skelm in die glas tafelwater en

smeer haar hand nat. Vryf die skubbe af aan die oorhangpunt van die tafeldoek.

Maar miskien was dit net ’n droom.

Haar ma raas party oggende as sy vertel wat sy gedroom het. Dan sê haar ma sy maak jokstories op.

Later weet sy nie of sy regtig gedroom het nie.

Al wil sý niks van Oupa Strydom hê nie, moet haar pa Kiepersolkloof kry. Want hulle beddens en

klere en haar boomhuis is daar. Die groen-en-geel John Deere-trekker wat haar pa by die landbouskou

gekoop het. Die Bonsmaras en Bamba en die hoenderhok en haar ma se kar ook. Buitendien, waar sal

Samuel en Mama Thandeka en Mabel bly, en wie sal in die aand ’n kers opsteek in die lanterntjie by die

engelbeeld as haar ma nie daar bly nie?

Haar ma sê die sandkasteel lyk asemrowend, en skink nog koeldrank. Anthonie sit sy wafelbeskuitjies

in ’n perlemoenskulp en sê dis sy seebord. Die seevoëls maak harde geluide. Haar ma sê ’n skaap blêr, ’n

donkie balk, ’n slang sis, en ’n seevoël krys. Krys-krys-krys-krys. Dis ’n mooi geluid wat sy moet onthou.

Sy is só bly Hermanus se strand en die seevoëls en die seepampoentjies kan nie in Oupa Strydom se

testament opgeskryf wees nie. Want dit behoort aan Jesus. Daarom kan niemand daaroor stry nie.

Skielik is dit aand en sy en Anthonie speel met die hysbakknoppies in die hotel. Toe is dit oggend en

sy het haar wit kerkrok aan. Daar ry ’n lang swart kar, stadig. Haar ma sê Oupa Strydom is in die kis,

maar sy hart is in die hemel. ’n Vreemde tannie gee vir haar tee by ’n lang tafel met ’n wit tafeldoek en

hou ’n groen bord met goue patroontjies om die rand naby haar gesig. Daar is rosynebrood op die groen

bord. Sy skud haar kop, want sy hou nie van rosyne nie. En sy hou ook nie daarvan dat die tannie sê sy lyk

soos haar oupa nie.

Toe al die tee en koek op is, gaan haal haar pa hulle koffers by die hotel.

Hulle ry ver.

Hulle stop by ’n garage met ’n hele ry petrolpompe en sy en haar ma gaan toilet toe. Haar pa koop

pasteitjies en malvalekkers met klapper. Hulle ry weer. Die son skyn by die karvenster in. Haar ma knyp

’n handdoek in die venster vas en sê sy moet op Anthonie se been slaap. Voor sy slaap, hoor sy haar pa sê

vir haar ma hy het die twaksak en pyp en jig-armband en valstande by die ouetehuis vergeet.

Die karwiele maak soos die see op die pad.

Toe slaap sy.

Sy word effens wakker toe haar pa haar op haar bed neerlê en haar skoene uittrek. Sjuut, slaap maar,

ons is by die huis, sê hy en vee haar kuif weg. Maak haar toe met die verekombers; druk die kussing onder

haar wang in.

Dis lekker warm.

Sy is lief vir hom.

In haar slaap sê sy krys-krys-krys. Sy droom van seevoëls en van ’n waterglas met valstande in. En van

sponserige klapper-malvalekkers.

Sy pak die verbleikte seepampoentjies en die you’re one in a thousand-botteltjie terug in die

perlemoenskulp. Sit dit op die potystertafel by die Familiebybel en Anthonie se foto. Sy is honger. Dalk

het Mabel vir haar kos neergesit.

Voor sy kiepersol toe loop, wil sy haar kamervloer ontsmet. Terwyl sy ’n emmer warm water tap, sien

sy die badskuimvlekke op haar wit sweetpak. Dis niks, die sweetpak kom nog uit haar tennisdae op skool.

Sy sal dit vanaand weggooi.

Nie ’n oomblik het sy gedink Braham Fourie sou die raaisel ontrafel nie. Jaareinde-antwoordstelle word

buitendien nooit uitgedeel vir bespreking nie. In die nuwe jaar sal haar eienaardige antwoord vergete

wees.

Aandete by die koshuis. Almal wil haar macaroni-en-kaas hê. Ruil dit vir ’n trossie druiwe. Gril om te

sien hoe spuit hulle tamatiesous oor die snotterige macaroni.

Danksegging.

Afkondigings: CSV-kringe vergader ná ete. Seniors mag in hulle kamers studeer. Laatligte word

toegelaat tot elfuur. Geen radio’s. Meneer Fourie wil Gertruida ná CSV in die kleinkantoortjie spreek.

Goeie bliksem.

Sy is die enigste leerling wat nié CSV-lid is nie. Almal moet aan ’n godsdiens-aktiwiteit deelneem, sê die

hoof, dis ’n Christenskool van onkreukbare moraal.

Ignoreer hom. Kwakers laat hulle nie voorskryf nie.

Sit in CSV-tyd op die tuinbank onder die wildepruim in die koshuistuin met toe oë. Dink aan die

lemoenduifie wat in die sederboom broei. Wat eet Mama Thandeka en Mabel vanaand?

Toe sy die derde agtereenvolgende week in standerd ses nie opdaag vir CSV nie, roep die hoof haar

kantoor toe. Sy sê haar pa het gesê sy hóéf nie CSV toe te gaan nie.

Hy hét, want dit pas hom om haar weg te hou van plekke waar belydenisse kan uitglip.

Die hoof sê sy hou haar op met kettery, en dit sal haar nog vele smarte besorg.

Sy gee nie om wát hy sê nie. Sy wil nie ’n dowe Here loof nie.

Ná CSV in die kleinkantoortjie. Menéér Fourie sal seker sê sy maak ’n bespotting van haar geleenthede.

As dit enigiemand anders as hy was, sou sy op die tuinbank bly sit en dom gespeel het.

“Sit, Gertruida.” Hy beduie na die outydse rusbank.

“Naand, Meneer.” Hy is ’n skrale ses jaar ouer as sy. In haar gedagtes is hy nie ’n meneer nie, hy is

Braham.

“Briljante antwoordstel, Gertruida,” en hy wys na die pakkie op die koffietafel. “Beste in die klas.”

Braham, neem my weg. Ver weg. Kom ons gaan bly op ’n rivierboot in Holland. In ’n modderhut in

Lesotho. Onder ’n bakkrans. Maar het my net lief. “Dankie, Meneer.”

“Ek weet jy ken die antwoord op ‘laventelhaan’.”

“As ek dit geken het, sou ek mos …”

Hy blaai oop op bladsy twee; stoot die antwoordstel oor die tafel en druk sy vinger onder die

antwoord by vraag 4(g). “Of glo jy werklikwaar Abel Strydom is ’n laventelhaan?”

Sy duim raak aan haar toe sy die vraestel optel. Dit skok deur haar. “Een punt minder sal geen verskil

maak nie, Meneer.” Sy sit die vraestel neer en staan op. Haar hand is op die deurknip toe hy agter haar

praat.

“Wát wou jy vir my sê, Gertruida?”

“Niks. Die vraestel was maklik, ek was verveeld.”

“Jy lieg, Gertruida.”

“Hoekom sal ek lieg?”

“Gertruida …” Sy wens hy wil haar naam honderd keer sê. “Onthou, as jy ooit wil verduidelik wat jy

by vraag 4g vir my wóú sê …”

“Ek wou niks sê nie.”

Toe loop sy. Hy moenie sien sy huil nie.

Sy was die vloer drie keer met Dettolwater. Tap elke keer skoon water. Gebruik ’n skoon waslap en gooi

die vuile tussen die bloulelies. Nóg ’n skone vir afdroog. Lê op haar maag en lek die geelhoutplank. Om

te bevestig Abel Strydom se spore is weggewas uit háár kamer.

’n Tydjie nadat hulle die eerste maal teruggekom het van Braham se ma-hulle af, bring hy in Die

Koffiekan vir haar die blye nuus dat sy huisverband goedgekeur is, en dat registrasie by die aktekantoor

voor die lente afgehandel behoort te wees. Hy sê hy brand om weg te kom uit die lawaaierige,

dissiplinelose koshuis.

“Dan kan ons in mý huis koffie drink waar niemand ons aanstaar …”

“Vergeet dit, Braham. Ek sal jou huis kom skoonmaak en wat ook al, terwyl jy in die skool is. Ek sal

vakansietye jou potplante natmaak en jou kat kos gee. Maar ek gaan nie alleen daar by jou kom kuier nie.

Niks met skinderstories uit te waai nie. Ek is eenvoudig nie gemaklik daarmee nie.”

“Jy’s tog seker nie bang ek verkrag jou nie?” Tong in die kies.

“Nee. En moontlik, ja.”

Daar brand ’n kaggelvuur in Die Koffiekan. Die plek is warm en gepak, want dis pannekoek-special.

Sy eet nie snotterige pannekoek nie. Bestel roosterbrood met heuning.

“Julle is mos nie in die winter so besig op die plaas nie?” sê-vra Braham.

“Ons is. Ek kalk die skuur en my pa gooi ’n sementvloer in die onderdak-deel van die melkkraal.

Komende week moet ek en my pa tot bo in die garingblaaikamp heinings naloop, en kyk dat die suipings

reg is. Ons vat elkeen ’n eenmanstent en slaapsakke. Ek is bly om weg te kom, omdat die huis taai voel,

want my ma en Mabel kook marmelade. Hoekom vra jy?”

“Ek het gedink jy sal dalk tyd hê om die graadelfs se taalvraestel vir my op te stel. Ek is oorbesig met

tenniswedstryde, en die vraestelle moet oor twee weke in wees.”

Teken met ’n tandestokkie op die tafel, om nie te sien hoe eet hy sy kaas-en-tuna-pannekoek nie,

toegegooi onder kaassous. Vandat Abel hom op Kiepersolkloof verbied het, is Vrydagmiddae haar

reddingstou. Sy wil niks doen of sê wat die middag kan bederf nie. Eerder wegkyk van die pappery.

“Bring vir my ’n handboek, ek sal dit doen.”

“Dikwels as ek vraestelle opstel, onthou ek die keer toe jy opsetlik die betekenis van ‘laventelhaan’

verdraai het.”

“Ek was verveeld.”

“Vertel my hóékom het jy die antwoord gegee as Abel Strydom.”

Moenie die aas vat nie; netnou katrol hy jou in. “Braham, baie tieners het ’n hekel aan hulle pa’s. Ek is

ook maar deur so ’n stadium en …”

“Jy het steeds ’n renons in hom.”

Draai die tandestokkie om, skryf met die skerp punt. “My pa kan so grootdoenerig wees. Laas naweek

het hy weer by die tennis so smaaklik vertel van die sak terroriste-ore wat hy steeds bewaar.” Hou aan

praat, lei hom weg van sy mikpunt. “En van die mak leeu wat in die basiskamp by hom op die bed geslaap

het. Sondag toe lei hy die voorsang in die kerk. Partykeer is ek oortuig hy is siek in sy kop.”

Verlossing toe sy bord leeg is en die kelnerin dit wegneem. Leun vorentoe en vee ’n kaassousmerkie

by sy mondhoek af. Frommel die servet op.

“Daar’s iets omtrent jou pa wat ek jou lankal wil vertel, maar ek is huiwerig …”

Keer hom weg. “As dit negatief is, beter jy dit net vir m y´vertel, anders is jy jou pos kwyt. ’n Recce

laat hom van niks keer nie.”

“Jou pa, Gertruida,” en hy sit sy voorvinger op haar hand om haar aandag weg te kry van die

tandestokkie, “was nooit ’n recce nie. Dis ’n grootpraatstorie waarmee hy …”

“Braham …?” Oogspiertjie wat spring. “Jy was nie in die army nie, hoe sal jy dit kan weet? Ek sweer,

my pa wás ’n recce, hy’t ’n sak vol terroriste-ore en foto’s …”

“Enige soldaat kan ore en foto’s hê. Ek ken iemand in die staande mag, hy’t my vertel jou pa se naam

was gelys op die Wall of Shame …”

“Wat is ’n Wall of Shame?”

“Google dit. Sy naam is verwyder nadat hy ’n paar jaar gelede skriftelik verskoning gevra het. Maar as

hy aanhou met sy grootpratery …”

Dis asof sy met iemand anders se tong praat. “Wat dan?”

“Dan gaan ék hom rapporteer. En sy naam sal nóóit weer verwyder word nie.” Hy leun vorentoe, praat

sag sodat net sy hoor. “Hy is ’n lafaard en huigelaar en leuenaar, Gertruida. Jy’s reg, hy ís siek in sy kop.

Ek sê dit nie omdat hy my sy plaas belet het nie; ek sê dit omdat hierdie twee oë,” en hy druk sy

middelvingers langs sy ooghoeke, “kan sién wat hy aan jou doen. Presies wat op Kiepersolkloof aangaan,

weet ek nie. Maar dat daar iets aangaan, is seker. Of dink jy ek is blind?”

Ryg haar vingers deur syne, asof sy in nood na hom gryp. “Nee, jy is heldersiende. Ek vra jou net

mooi, Braham, moenie my seermaak nie. Ek het genoeg pyn van my eie.” Hy knie haar vingers tussen syne.

“As ek dit kan verhelp, Gertruida, nóóit.”

Die aand google sy Wall of Shame. Haar pa se naam is nie daar nie. Maar sy sit en lees verstard-

verwese oor magshonger mans wat netsowel Abel Strydom kon wees. Maak ’n uitdruk en skuif dit onder

sy kantoordeur in, terwyl sy weet hy is daarbinne besig met sy wydsbeen-lipstiekvrouens en sy boks

manstissues.

Other books

Northern Borders by Howard Frank Mosher
Not Flag or Fail by D.E. Kirk
Nothing Serious by P.G. Wodehouse
Dead Man's Song by Jonathan Maberry
Captured by Desire by Donna Grant
The Dragon Tree by Jane Langton
Carnations in January by Clare Revell
Highways to Hell by Smith, Bryan