Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

Thula-thula (afr) (26 page)

haar op jou rug abba, vasgebind dat net haar koppietjie uitsteek, en só loop julle oralster heen, sien sy net

jou rug, Thandeka. As daar ’n boom doer voor in die pad is, kan sy nie die boom bekyk soos hy nader

kom nie. Skielik is die boom langes haar. Dis nie ’n bóóm nie, dis ’n díng. Sy kan nie praat om vir jou te

sê jy moet stilstaan dat sy na die ding kyk nie. Jy loop. Sy kan nie omdraai en die ding agterna kyk nie,

sy’s te styf vasgebind. Daar kom ’n voël aangevlieg. Daar kom ’n kar aangery. Sy sien jou rug, sy sien nie

die voël nie. Sy hoor die kar, maar weet nie van waar af hy kom en hoe ver hy nog is nie. Netso, verby is

die voël en die kar.

Jy dink nie daaraan om vir haar te sê daar’s ’n voël of ’n kar aan’t komme nie. Jy dink nie daaraan dat

die tjint nie kan omkyk watse ding dit was nie. Die dag as jy haar van jou rug afhaal, beginte sy eers te

kyk. Want jou rug is nie meer in haar pad nie. En sy kan haar kop draai soos hy wil, en omkyk soveel kere

as wat sy wil.

Ek bekyk Samuel se gesig in die vlamme. Ek sit stilgeslaan. Dis soos ’n boek van slimmigheid wat

voor my oopval.

Ek weet jou mense maak anderster, Thandeka. Eintliks is dit mooi om ’n ma en haar tjint so bymekaar

te sien. Maar onthou, Thandeka, vandag se dae waar gelerendheid tel, kan mens nie jou oë beginte

ronddraai die dag as jy van jou ma se rug afgetel word nie. Dan’s jy klaar gewend om teen ’n rug vas te

kyk. Onse tjint moet grootraak met oë wat ver kan kyk. Sy moet allester sien wat aankom, en sy moet kan

omkyk na die spore wat agter haar lê.

Ek luister mooi na wat Samuel sê. Ek dink aan my amperse wit bybietjie wat in die cot slaap. My hart

is baie vol. Oordat hy praat van “onse” tjint.

Daar kom tye dat Samuel ver werk, of heinings heelmaak agter in die taaiboskamp, sodat die jakkalse

nie deurkruip nie. Dan wag ek tot Mabel se koppietjie beginte knik. Ek vat ’n handdoek en bind haar styf

teen my longe vas. Ek voel die tromme van my tata in my voetsole. Ek hoor my mama sing ’n lied en die

wysie bewe uit haar rug uit.

Ek beginte wieg op my voete, met my hande onder my bybie se boude. Ek verlang na mense wat ek

gevergeet het. En altoos sal onthou. Ek sing soos my mama.
Thula Thula Thula, baba, Thula sana, Thulu

umamuzobuya ekuseni … Toemaar, tjintjie, toemaar … Môreoggend kom jou mama …

Waffer vreestelike dinge ook al later jare in Kiepersolkloof se huis gebeur het, het nie sonder ’n rede

gebeur nie. ’n Mens se kopwysies raak nie vanself deurmekaar nie. Abel sal voor iNkosi moet

verduidelik van die verkeerd met Gertruida. Maar iNkosi weet ook van die verkeerd wat die ouman aan

Abel gemaak het.

Die groot draai op my maag is oor wat ék vir iNkosi gaan verduidelik oor hoekom ek stilgebly het toe

dit praattyd was. Hoeveel dae het Abel by onse tafel gesit, dan wil ek praat oor Gertruida. Maar my tong

lê plat in my mond. Abel eet sy kaiings en vra of ek raad het met Susarah se donkertes. Ek sê ’n vrou se

donkertes bly lank donker; hy moet tyd gee. Maar ek bly stil van Gertruida se donkertes wat vorentoe

donkerder en donkerder gaan word.

Is my werk gewees om die engel te wees wat die lantern oplig sodat hy beterder kan sien waar om te

trap. Toe kies ek om die lantern dood te blaas.

Nikswerd engel.

Waar ek hier sit met al die papas en mamas se geeste rondom my, wens ek met rou in my hart ek kon

Abel weer by die deurkomhekkie sien aankom met ’n sakkie ertappels. Dan sal ek sê: Sit, Abel, kom ons

praat. Oor lelike goeters wat jy moet regmaak.

Maar al wat oorbly, is om vir die geeste ’n storie te vertel oor ’n tjint se kopwysies wat

deurmekaargeraak het, en nooit weer ’n mooi lied kon word nie. Dis ’n storie wat ek vir Gertruida ook

moet vertel. Straks help dit om die kwaad in haar tot bedaring te kry.

Kort agter die tyd toe ek en Samuel op Kiepersolkloof aangekom het, toe pik die rinkhals Abel se mama.

Die ouman was ’n harde man. Nooit het ek ’n traan in sy oë gesien oor sy afgesterfde vrou nie. Seker

swaar gewees om te dink hy moet die drie tjinners alleen grootkry.

Die twee broertjies was ouerder as Abel; kon baie dinge saam met die ouman doen. Trekker dryf,

kolganse skiet, skape uitvang, waenhuiswerke. Abel was maar vyf jare. Te groot om ’n bybie te wees. Te

klein om met ’n geweer oor sy skouer en ’n knipmes in sy sak rond te loop. Tros agter sy broertjies aan.

Hulle jaag hom huis toe, na my toe. Abel wil sy papa help met eiers uithaal, hoenders kos gee, hekke

oopmaak. Soek seker na sy mama wat weg is; wil wéét sy papa het hom lief. Maar sy papa jaag hom ook

weg na my toe.

Sien, Abel wou als met sy linkerhand doen. Die ouman is dwars daaroor, want al die gereedskap en

skietgoed ken hy net met sy regterhand. Klap die paplepel uit Abel se linkerhand. Gooi die prent wat hy

met sy linkerhand geteken het in die stoof. Ergste is as hulle saam in die waenhuis is, want die tjint kan

nie met sy regterhand ’n spyker kap of ’n plank saag nie. Dan skree die ouman hy’s onnooslik. Naderhands

huil Abel. Dan skree die ouman op hom oordat hy huil. Jaag hom huis toe.

Die ding met enige seunstjint is dat hy mik om op ’n sterke regopstoel in sy papa se hart te sit. Abel

ook. Soek hard. Wil soos sy papa wees. Ryk, slim, sterk, weet als, kan als doen. Moet heeltyd hoor hy’s

onnooslik. Oralster in sy lyf beginte die beentjies vanselwers breek. Hoe krankliker hy loop, hoe verder

stamp sy papa hom weg.

Kom met bewelippe na my toe. Wat weet ek van tjint grootmaak? Ek maak soos ek dink my mama sou

maak. Gee ’n snytjie koek; sê hy moet die frikkadelle rol; laat hom koffie maal. Stuur hom om die

hoenders se pap uit te krap. Ek sien hy gaan agteruit. Ek wis nie of hy na sy mama verlang, en of hy wens

sy papa wil hom liefhet nie.

Toe hy dorpskool toe gaan, dink ek hy sal maters hê, en als sal beterder raak. Ek bak koekies vir die

koshuis; sit druiwe en lemoene in. Vir sy broers ook. Abel sê sy broers eet hulle kosgoed als op

Maandae, dan vat hulle syne. Toe ek daaroor praat, sê die ouman ek moet my plat neus eenkant hou. Ek

wil vra wie sal dan na Abel omkyk, maar ek bly stil.

Raak mos eendag korrelrig met my oor ek in als krap, tot in sy afgesterfde vrou se naaldwerkboks. Hoe

moet ek knope aanwerk en nate toeryg sonder garing en naalde? Moenie voorbarig wees nie, sê hy, vrá.

Volgende keer toe daar naaldewerk is om te doen, sit ek die bondeltjie op die skryftafel in sy kantoor en

sê ek kom vrá of hy dit sal regmaak voor Maandag. Hy raak so kwaad dat sy valstande ampers uitval.

Kos my party naweke en vakansies Abel se matras agter die putlewwetrie regop sit vir droogword. Ek

ruik aan sy wasgoedsak, daar’s nie pie aan sy koshuisklere nie. Ek wis dis hiér op Kiepersolkloof dat die

bang hom gryp. Partykeers kyk ek die ouman aan en dink: Jou ou bliksem.

Seker was Abel so sewe jare oud toe sy broertjies die wyfiebobbejaan die dag by die amandelbome

skiet. Bobbejaantjie by haar wat haar vasklou en haar tiet suig toe sy al dood is. Grote bakore, omtrents

nie ’n haartjie in sy pienk gesiggie nie. Die ouman sê hulle kan hom op die werf grootmaak. Hulle dra die

kleintjie huis toe, hemde en arms gebeskyt. Bo teen die berg raas die trop soos mal goed, want hulle hoor

die kleintjie skree. Seker die geweerskoot ook gehoor.

Hoekom sal ek nie kan sê nie, maar toe die bobbejaantjie Abel sien, breek hy los en hol reguit vir

Abel. Abel had skaars tyd vir skrik, toe klou die bobbejaantjie hom vas; lê sy koppietjie teen Abel se

bors en sit sy armpie om Abel se nek. Nie ’n skytstrepie op Abel nie. Duidelik gewees dat die

bobbejaantjie sy hart op Abel gesit het.

Maar dis een ding om ’n bobbejaantjie werf toe te bring, en ’n ander ding om hom te versôre. Kos my

by die ouman lek dat Samuel met die bakkie Bosfontein se winkel toe kan ry vir ’n melkbottel en tiete.

Só kom dit toe dat Abel iemand kry wat hom liefhet, al is hy links.

Wat is ’n bobbejaantjie in jou taal, Mama Thandeka? vra hy.

Imfenana, sê ek.

Toe raak die dingetjie se naam Imfenana. Slaap sawens in die houtkamer op ’n ou strykkombers.

Bedags vasgeketting aan die olienhoutboom voor die stoeptrap. Nikse tuin daardie tyd nie. Net ’n paar

bome en kale werf. Eers baie jare laterder het Missus Susarah ’n tuin gemaak wat lyk of dit uit ’n boek

geknip is.

Vrydae as die bakkie stop, hol Abel reguit na Imfenana toe. Die bobbejaantjie is so bly, hy slaan

bollemakiesie en praat met Abel, jy sien net tande. Kompleet of hy lag. Abel koop al sy sakgeld op aan

lekkers en piesangs vir Imfenana. Hy loop hande-viervoet met Imfenana op sy rug, of die dingetjie hang

onder sy maag met sy handjies aan Abel se hemp vasgegryp. Ek kyk deur die kombuisvenster. Imfenana

loop rondom Abel waar hy teen die olienhout sit, krap in Abel se hare en ore. Lyk of hy luise aftrek en

stukkend byt. Abel sit toe-oë van lekkerte onder die doenige handjies. Dan’s dit weer die bobbejaantjie

se beurt. Lê pap-slap soos een wat slaap; laat hom om en om rol.

Die gat tussen Abel en sy papa rek wyerder. Nou loop Abel nie meer agter sy papa en broertjies aan

nie. Probeer nie met sy regterhand skryf nie. Hou sy mes en vurk reg vas nét as die ouman saameet.

Samuel leer vir Abel bobbejaanresitasies uit die jare toe hy skool geloop het. Abel sê die resitasies oor

en oor vir die bobbejaan wat skewekop luister en praatgeluidjies maak.

Bobbejaan loop in die straat

en hy het ’n stok

dis ’n koggelstok …

sy rug het ’n boggel oppie boggel

sit ’n moggel

en hy koggel

en hy roggel

met die moggel

op sy boggel

tag so ’n boggembobbejaan

hoera vir die boggelbobbejaan

Of hy sing: “Bobbejaan klim die berg”. Mooie stem, nie ’n klankie uit plek uit nie.

Sy matras bly droog. Hy en die bobbejaan is soos ’n tweeling wat vas aanmekaar gebore is. Later raak

die bobbejaantjie te swaar om te dra en hy slaap snags in die olienhout. Op koue dae trek Abel vir hom ’n

jersie aan, en die bobbejaan trek nie die jersie uit nie. Hy koop met sy sakgeld vir Imfenana ’n

vashouspieël by Missus Magriet se winkel. Kostelik hoe die bobbejaan kyk of daar ’n ander bobbejaan

agter die spieël is. Maar die bobbejaan wil nie met die skoene loop wat Abel vir hom aantrek nie. As hy

die skoene aanhet, loop lê hy en hou hom dood.

Hulle loop hand aan hand in die veld, of vyeboom toe. Die bobbejaan loop kiertsregop soos ’n mens.

Abel gesels. Imfenana se lippe praat saam, kompleet of hy verstaan. Ek wonder wát sê hy vir die

bobbejaan. Vertel hy van sy mama? Of hoe sy papa niks gesê het oor hy volpunte het vir sy sommetoets

nie? My hart het hom so jammer gekry. Toe maak ek ’n ryspoedinkie met die orige tafelrys. Oordat ek

weet hy’s lief vir ryspoeding. Ek sê dis sy sommepoeding. Hy vra of hy die poeding met Imfenana mag

deel. Vat twee lepels buitentoe. Is lankal dat die bobbejaan met ’n lepel eet, maar is die eerste keer dat ek

sien ’n bobbejaan eet ryspoeding.

Maandae as die koshuiskoffers gelaai word, klim Imfenana in die olienhout en wil nie afklim of eet

nie. Sit met Abel se skoen teen sy bors, tot hy té honger raak.

Een aand bak ek en Samuel aspatat in die kole. Ek sê daar gaan moeilikheid kom met die bobbejaan,

want as die ouman verbyloop, krap hy die grond met stywe voorpote. Of trek sy kopvel agtertoe en dop sy

oë spierrewit om, nes of hy sê: Ek sien jou nie. Samuel sê hy’t gesien die bobbejaan draai sy gat vir die

ouman en gooi hom met olienhoutbessies.

Kort voor Krismistyd loop Abel een môre Bosfontein se winkel toe vir lekkergoed vir Imfenana. Wyl

hy weg is, steel sy broers die ouman se drinkgoed. Voer die bobbejaan ’n halfbottel brandewyn en

klompe suurbessies. Toe Abel terugkom met die lekkers, lê die bobbejaan wydsbeen onder die olienhout,

mond hang oop. Abel dink sy broertjie is dood en beginte skree. Hardloop soontoe en lê met sy kop op

Imfenana se maag, klou die bobbejaan vas.

Hy makeer niks, troos ek, hy’s net moer toe dronk. Teen vanaand sal hy reg wees. Daar’s iets in die

tjint se oë wat my bang maak. ’n Donker hardheid. Hy bly heeldag by die bobbejaan. Laatmiddag beginte

die bobbejaan stadigaan regkom. Klim sukkel-sukkel in die boom. Val weer uit soos ’n sak hawer. Abel

tap vir hom ’n bekertjie water by die buitekraan, gaan haal die lekkers.

Is net mooi daardie tyd toe die ouman onder die boom deurloop melkkraal toe dat die suurbessies

beginte werk. Toe hy reg onder die bobbejaan is, skyt die bobbejaan oor hom. Van sy hoed tot by sy

skoene, swarte bobbejaanmaagwerksel. Ek skud die koffiesak uit by die huishoek. Ek dink by myselwers

die bobbejaan is aspris. As ’n bobbejaan uit asprisheid kan klip gooi, kan hy uit asprisheid op iemand

skyt ook.

Die ouman haak die geweer se band van sy skouer af. Ek skrik my droëkeel. Want ek sien

allervreestelike hartseer aankom. Toe hy met die geweer in die olienhout opmik, smyt ek die koffiesak

neer en hardloop. Net daardie tyd kom Abel met die lekkergoed by die stoeptrap af. Moenie! skree hy en

hol op die ouman af.

Maar ons is al twee te laat.

Die skoot klap oor Kiepersolkloof.

Imfenana val uit die boom, voor Abel se voete. Die bloed loop by sy ore uit en vlek sy tande rooi.

“Het jy mál geraak!” skree ek. Wragtig, hy draai die geweer se punt na my toe.

Partykeers gaan staan die aarde stil rondom ’n mens.

Other books

Army of the Wolf by Peter Darman
Blind Man's Alley by Justin Peacock
Willful Machines by Tim Floreen
Goddesses Don't Get Sick by Victoria Bauld